Rigters 2:1-10

Rigters 2:1-10 AFR20

Die •Engel van die HERE het van Gilgal af opgegaan na Bogim en gesê: “Toe Ek julle uit Egipte laat optrek het en julle gebring het na die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het, het Ek gesê, ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Hulle altare moet julle afbreek. ’ Maar julle het nie na my stem geluister nie. Waarom het julle so opgetree? En Ek sê ook vir julle, ‘Ek sal hulle nie voor julle uitdryf nie. Hulle gaan vir julle strikke word en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word. ’ ” Nadat die Engel van die HERE hierdie woorde vir al die Israeliete gesê het, het die volk hardop gehuil. Hulle het daardie plek toe Bogim genoem, en daar vir die HERE offers geslag. Josua het die volk weggestuur, en die Israeliete het elkeen na sy erfdeel gegaan om die land in besit te neem. Die volk het die HERE gedien gedurende Josua se leeftyd, en ook gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het, hulle wat al die groot dade van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. Josua, seun van Nun, die dienskneg van die HERE het op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Geres, wat in die heuwelland van Efraim geleë is, noord van die berg Gaäs. Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar 'n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die HERE geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid