Genesis 6:1-7

Genesis 6:1-7 AFR20

Toe die mense meer begin word oor die hele aarde en daar dogters vir hulle gebore is, het die hemelwesens gesien dat die dogters van die mense mooi was. Hulle het toe vir hulle vroue geneem, wie hulle ook al verkies het. Die HERE het toe gesê: “My gees sal nie vir altyd in die mens bly nie, omdat hy ook vlees is. Sy lewensdae sal honderd-en-twintig jaar wees.” Die reuse was in daardie tyd en ook daarna op die aarde, solank as wat die hemelwesens by die dogters van die mense ingegaan en vir hulleself kinders verwek het. Daardie kinders was die helde uit die ou tyd, die beroemde manne. Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, was die HERE jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom tot in sy hart gegrief. Toe sê die HERE: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem af uitwis – mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid