Genesis 46:1-7

Genesis 46:1-7 AFR20

Israel en almal wat by hom hoort, het kamp opgebreek. Toe hulle by Berseba kom, het hy offers geslag vir die God van sy vader Isak. God het met Israel in naggesigte gepraat; Hy het gesê: “Jakob! Jakob!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om af te trek na Egipte nie, want Ek sal daar van jou 'n groot nasie maak. Ek self sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek self sal jou beslis ook weer laat optrek. En Josef, hy sal jou oë toedruk.” Jakob het gereedgemaak en vertrek uit Berseba. Die seuns van Israel het hulle vader Jakob, hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat die farao gestuur het om hom te vervoer. Hulle het ook hulle vee en hulle goedere wat hulle in die land Kanaän bekom het, geneem, en in Egipte aangekom, Jakob en sy hele nageslag saam met hom. Sy seuns en sy kleinseuns was saam met hom; sy dogters en sy kleindogters, sy hele nageslag het hy saam met hom na Egipte gebring.

Video vir Genesis 46:1-7