Eksodus 2:11-24

Eksodus 2:11-24 AFR20

In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword! Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit. Die priester van Midian het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar daar het veewagters opgedaag en hulle weggejaag. Moses het opgestaan, hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. Toe hulle by Reüel, hulle vader, kom, sê hy: “Waarom is julle vandag so gou terug?” Hulle het geantwoord: “Daar was 'n Egiptiese man wat ons uit die hand van die veewagters gered het. Hy het ook vir ons genoeg water uit die put opgetrek en die kleinvee laat drink.” Daarop sê hy vir sy dogters: “En waar is hy nou? Waarom het julle die man dan daar agtergelaat? Roep hom, sodat hy iets te ete kan kry.” Moses het ingewillig om by die man te bly en hy het sy dogter, Sippora, vir Moses as vrou gegee. Sy het aan 'n seun geboorte gegee, en Moses het hom Gersom genoem, “Want,” het hy gesê, “ek het 'n •vreemdeling geword in 'n vreemde land.” Gedurende hierdie lang tyd het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. Hulle hulpgeroep oor die slawewerk het opgestyg na God. God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 2:11-24

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid