Daniël 6:1-21
Daniël 6:1-21 AFR20
Darius die Meder het die koningskap ontvang toe hy twee-en-sestig jaar oud was. Darius het dit goedgedink om honderd-en-twintig satrape oor die koninkryk aan te stel, wat oor die hele koninkryk verspreid sou wees. Oor hulle was daar drie toesighouers, waarvan Daniël een was, aan wie hierdie satrape rekenskap moes gee, sodat die koning nie skade sou ly nie. Hierdie Daniël het homself onderskei van die toesighouers en satrape, omdat 'n buitengewone gees in hom was; en die koning het beplan om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Daarop het die toesighouers en satrape na 'n rede vir 'n aanklag teen Daniël gesoek in verband met die koninkryk, maar hulle kon geen rede of fout vind nie, omdat hy betroubaar was. Geen nalatigheid of fout is by hom gevind nie. Dié manne sê toe: “Ons sal nie enigiets vind teen hierdie Daniël nie, behalwe as ons iets teen hom vind in die wet van sy God.” Daarna het hierdie toesighouers en satrape by die koning ingestorm en die volgende vir hom gesê: “O koning Darius, leef vir ewig! Al die toesighouers van die koninkryk, die landvoogde, die satrape, die raadsmanne en die •streekgoewerneurs het met mekaar ooreengekom dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod moet bekragtig, dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens, behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word. O koning, vaardig dan nou die verbod uit, en stel 'n bevelskrif op wat nie verander kan word nie, wat as 'n wet van Mede en Perse nie herroep mag word nie.” Om dié rede het koning Darius die bevelskrif en die verbod op skrif gestel. Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op 'n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het. Daardie manne het toe ingestorm en Daniël biddend en smekend voor sy God gekry. Daarna het hulle voor die koning verskyn en met hom gepraat oor die koninklike verbod: “Het u nie 'n verbod op skrif gestel dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die saak staan vas as 'n wet van Mede en Perse, wat nie herroep mag word nie.” Toe antwoord hulle en sê vir die koning: “Daniël, een van die ballinge van Juda, steur hom nie aan u, o koning, of aan die verbod wat u op skrif gestel het nie, maar drie keer op 'n dag rig hy sy bede tot sy God. ” Toe die koning dít hoor, was hy erg ontsteld, en het hy sy bes gedoen om Daniël te red. Tot sononder het hy hom beywer om hom te bevry. Daardie manne het ingestorm by die koning en vir die koning gesê: “Onthou, o koning, dat dit 'n wet van Mede en Perse is dat elke verbod en verordening wat die koning uitgevaardig het, nie verander mag word nie.” Daarop het die koning opdrag gegee en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. En die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy voortdurend dien, mag Hy jou red.” 'n Klip is gebring en op die opening van die kuil geplaas, en die koning het dit met sy seëlring en die seëlringe van sy maghebbers verseël, sodat niks omtrent Daniël verander sou word nie. Die koning het daarna na sy paleis gegaan en die nag deurgebring deur te vas. Geen kos is vir hom gebring nie, en slaap het hom ontwyk. In die oggend, teen die eerste lig, het die koning opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. Terwyl hy nader aan die kuil kom, het hy na Daniël geroep met 'n angstige stem. Die koning het vir Daniël gesê: “Daniël, dienskneg van die lewende God, was jou God wat jy voortdurend dien, in staat om jou te red van die leeus?”

