2 Samuel 5:17-25

2 Samuel 5:17-25 AFR20

Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek; maar Dawid het daarvan te hore gekom en afgegaan na die bergvesting. Die Filistyne het gekom en die vallei van Refaïm beset. Dawid het by die HERE raad gesoek: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my hand gee?” Die HERE het vir Dawid gesê: “Trek op, want Ek sal beslis die Filistyne in jou hand gee.” Dawid het in Baäl-Perasim aangekom en hulle daar verslaan. Dawid het gesê: “Die HERE het deur my vyande voor my gebreek soos water deurbreek.” Daarom het hy daardie plek Baäl-Perasim genoem. Die Filistyne het hulle afgode daar agtergelaat, en Dawid en sy manne het dit saamgeneem. Die Filistyne trek toe weer op en beset die vallei van Refaïm. Toe Dawid die HERE raadpleeg, het Hy gesê: “Moenie van voor teen hulle optrek nie; trek agter hulle om en val hulle aan voor die balsempopuliere. Sodra jy die geluid van 'n opmars in die toppe van die balsempopuliere hoor, moet jy toeslaan; want dan gaan die HERE voor jou uit om die leër van die Filistyne te verslaan.” Dawid het gemaak soos die HERE hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Geba af tot by Geser.