2 Konings 10:18-28

2 Konings 10:18-28 AFR20

Jehu het die hele volk byeengebring en vir hulle gesê: “Agab het Baäl maar min gedien; Jehu gaan hom baie dien. Daarom, wat al die profete van Baäl betref, al sy dienaars en al sy priesters, ontbied hulle hier na my toe. Niemand mag ontbreek nie, want ek het 'n groot maaltydoffer vir Baäl gereedgemaak. Niemand wat ontbreek, sal bly leef nie.” Jehu het dit egter met lis gedoen, sodat hy Baäl se dienaars kon vernietig. Jehu sê toe: “Kondig 'n heilige feesgeleentheid af vir Baäl.” Hulle het dit toe uitgeroep. Daarop het Jehu boodskappers deur die hele Israel gestuur, en al die dienaars van Baäl het gekom. Daar was niemand in die land oor wat nie gekom het nie. Hulle het toe in Baäl se tempel ingegaan. Die tempel van Baäl was van hoek tot kant gevul. Jehu sê toe vir die een wat in beheer was van die klerekamer: “Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl.” Hy het vir hulle die feesklere uitgebring. Jehu en Jonadab, seun van Regab, het die tempel van Baäl binnegegaan. Toe sê hy vir die dienaars van Baäl: “Maak doodseker en sien toe dat hier nie dienaars van die HERE saam met julle is nie, maar alleen die dienaars van Baäl.” Toe hulle ingegaan het om maaltydoffers en •brandoffers te bring, het Jehu buite vir hom tagtig man opgestel en gesê: “Die man wat enige van die manne wat ek in julle hande oorlewer, laat vrykom – sy lewe sal geneem word in die plek van die een wat vrykom.” Toe hy klaar die brandoffer gebring het, sê Jehu vir die hardlopers en die adjudante: “Gaan in, vel hulle neer! Niemand mag uitgaan nie!” Hulle het hulle toe neergevel met die skerpte van die swaard. Die hardlopers en adjudante het hulle uitgegooi en deurgedring tot in die woondeel van die tempelkompleks van Baäl. Hulle het die gedenkstene uit die tempel van Baäl uitgebring en dit in die vuur gegooi. Hulle het die gedenksteen van Baäl afgebreek, ook die tempel van Baäl afgebreek en dit plekke vir ontlasting gemaak; dit is vandag nog so. Jehu het Baäl uit Israel verdelg.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 10:18-28

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid