Toe die ark van die HERE sewe maande in die Filistynse gebied was, het die Filistyne die priesters en waarsêers ontbied en gesê: “Wat moet ons met die ark van die HERE maak? Maak aan ons bekend waarmee ons dit na sy plek toe moet terugstuur.” Hulle het geantwoord: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie sonder iets terugstuur nie, maar julle moet dit beslis met skadevergoeding vir die HERE laat teruggaan. Dan sal julle gesond word en dit sal vir julle duidelik word waarom sy hand nie van julle wyk nie.” Die Filistyne vra toe: “Wat is die skadevergoeding wat ons vir Hom moet terugstuur?” Hulle antwoord was: “In ooreenstemming met die getal Filistynse heersers, vyf swelsels van goud en vyf muise van goud, want een en dieselfde plaag het julle almal en ook al julle regeerders getref. Maak dan nou afbeeldings van julle swelsels en van die muise wat julle land verniel en betoon daardeur eer aan die God van Israel. Miskien maak Hy dan sy hand ligter oor julle, julle gode en julle land. Waarom sou julle onversetlik wees soos die Egiptenare en die farao onversetlik was? Was dit nie toe die HERE hulle vir die gek gehou het, dat hulle die Israeliete laat gaan het, en hulle getrek het nie? Kry dan nou 'n nuwe wa gereed, asook twee koeie in die melk wat nog nie onder die juk was nie. Span die koeie dan voor die wa in, maar keer hulle kalwers agter hulle weg huis toe. Neem dan die ark van die HERE en plaas dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle vir die HERE as skadevergoeding teruggee, moet julle langsaan in 'n saalsak neersit. Stuur die ark dan weg, laat dit gaan; maar hou dit dop: As dit met die pad na sy gebied opgaan, na Bet-Semes toe, is dit Hy wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. Indien nie, sal ons weet dat dit nie sy hand was wat ons getref het nie; dit het dan toevallig met ons gebeur.” Die manne het toe so gemaak. Hulle het twee koeie wat in die melk was, geneem en voor 'n wa ingespan, maar hulle kalwers is teruggehou by die huis. Hulle het die ark van die HERE op die wa gesit, en ook die saalsak met die goue muise en die afbeeldings van hulle swelsels. Die koeie het met die pad langs reguit in die rigting van Bet-Semes geloop. Met die een hoofpad het hulle geloop, al bulkende, maar hulle het nie links of regs afgedraai nie, terwyl die Filistynse heersers agter hulle aan loop tot by die grens van Bet-Semes. Die mense van Bet-Semes was besig om die koringoes in die vallei in te samel. Toe hulle opkyk, sien hulle die ark. Hulle was bly om dit te sien.
Lees 1 Samuel 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Samuel 6:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's