Openbaring 1:12-20

Openbaring 1:12-20 ABA

Ek het omgedraai om te sien wie praat met my. Toe ek omdraai, sien ek sewe goue lampe. Ek het gesien tussen die lampe is daar Iemand wat soos die Seun van die mens gelyk het. Hy het 'n lang bo-kleed gedra, en om sy bors was daar 'n goue belt. Sy kop en sy hare was so wit soos wol, so wit soos sneeu. Sy oë was soos 'n vuurvlam. Sy voete was soos blink koper wat in 'n oond gesmelt het. Sy stem was soos wanneer baie water raas. In sy regter-hand het Hy sewe sterre vasgehou. Daar het 'n swaard uit sy mond gekom, die swaard was baie skerp. Sy gesig het geblink soos wanneer die son baie helder skyn. Toe ek Hom sien, het ek op die grond voor sy voete geval, ek het daar gelê soos iemand wat dood is. Maar Hy het sy regter-hand op my gesit en vir my gesê: “Jy moenie bang wees nie, want Ek is die Eerste en die Laaste, Ek lewe altyd. Ek het gesterf, maar nou lewe Ek! Ja, Ek lewe altyd. Ek het die sleutels om die plek oop te sluit waar die mense is wat gesterf het, Ek kan die mense in die doderyk weer laat lewe. Daarom moet jy die dinge neerskryf wat jy gesien het, die dinge wat nou gebeur en die dinge wat later sal gebeur. Jy het sewe sterre in my regter-hand gesien en sewe lampe. Die sewe lampe beteken sewe gemeentes. Die sewe sterre beteken die sewe engele van die gemeentes.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid