Psalms 119:65-80
Psalms 119:65-80 ABA
Here, U het goed gedoen aan my, u dienaar, dit is soos U gesê het. U moet vir my leer om te weet wat is reg en wat is verkeerd, want ek glo dat u gebooie reg is. Voordat dit met my so sleg gegaan het, het ek verkeerd gelewe, maar nou doen ek wat U sê. U is goed en U doen goed, U moet vir my leer wat u wette sê. Hoogmoedige mense lieg en hulle praat sleg van my, maar ek doen wat U beveel met my hele hart. Hulle wil nie verstaan wat U vir ons sê nie, maar ek geniet wat U vir ons leer. Dit was vir my goed dat U my laat swaarkry het, want so het ek geleer wat u wette sê. Die dinge wat U vir my leer, is beter as duisende stukke goud en silwer. Ú het my gemaak en Ú het my laat lewe, U moet vir my leer sodat ek u gebooie kan ken. Die mense wat vir U dien, sal na my kyk en hulle sal bly wees, want hulle sal sien ek glo dat U sal doen wat U gesê het. Here, ek weet dat U reg besluit, en dat U my laat swaarkry het omdat U gesê het U sal dit doen. U moet doen wat U belowe het, dit sal dinge beter maak vir my. U het dit vir my gesê, vir my, u dienaar. U moet jammer wees vir my sodat ek kan lewe, want ek geniet wat U vir my leer. U moet die hoogmoedige mense laat verloor, want hulle het vir my gelieg en hulle het my verlei. Ék wil dink aan wat U beveel het. U moet die mense wat vir U dien, na my toe laat kom, sodat hulle kan leer wat U gesê het. Ek wil heeltemal gehoorsaam wees aan u wette, sodat niemand my kan verneder nie.



