Psalms 119:17-32
Psalms 119:17-32 ABA
As U goed is vir my, u dienaar, dan sal ek lewe en ek sal doen wat U gesê het. U moet my oë oopmaak, sodat ek kan sien hoe wonderlik die dinge is wat U vir ons leer. Ek sal nie lank hier op die aarde wees nie, U moet vir my leer wat u gebooie sê. My hart is seer, want ek verlang altyd om te hoor wat U besluit het. U praat kwaai met die hoogmoedige mense, U het hulle vervloek. Hulle is die mense wat nie wil doen wat u gebooie sê nie. U moet keer dat mense my nie spot en verneder nie, want ek doen wat U sê. Ook wanneer belangrike mense saam planne maak teen my, dan sal ek, u dienaar, altyd aan u wette dink. Wat U sê, maak my bly, dit sê vir my wat ek moet doen. Wanneer dit sleg gaan met my, dan moet U my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Toe ek vir U vertel het van my lewe, toe het U my geantwoord. U moet vir my leer wat u wette sê. U moet my help om te verstaan wat U beveel, sodat ek oor u wonderwerke kan dink. Ek smelt weg van die pyn, U moet my regop hou, soos U gesê het. U moet keer dat ek nie vals lewe nie, U moet genadig wees vir my en vir my leer. Ek het gekies om eerlik te lewe, ek het onthou wat U besluit het. Here, ek hou vas aan wat U sê, U moet my help om te weet wat ek moet doen. Ek wil graag lewe soos u gebooie sê, want U sal my help om dit te verstaan.




