Nahum 1:1-8

Nahum 1:1-8 ABA

Die Here het vir Nahum gewys wat Hy met die stad Nineve wil doen. Nahum het van die stad Elkos gekom. Die Here het gesê Hy sal Nineve straf. Die Here is 'n God wat baie kwaad word en wat sy vyande straf. Hy straf die mense wat teen Hom is, Hy bly kwaad vir sy vyande. Die Here is geduldig en baie sterk, maar as iemand skuldig is, dan sal die Here hom straf. Wanneer die Here kom, dan is daar 'n sterk wind en 'n storm. Die wolke is soos stof onder sy voete. Wanneer Hy met die see raas, dan word die see droog. Hy laat al die riviere droog word. Die plante in Basan en op Karmel-berg word droog. Al die blomme op die Libanon-berg verlep en gaan dood. Die berge skud voor die Here, die heuwels smelt, die wêreld en almal wat op die wêreld woon, skrik wanneer die Here kom. Wie kan voor God staan wanneer Hy kwaad is? Niemand nie. Wanneer God kwaad is, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Die rotse breek stukkend voor Hom. Die Here is goed. Hy help mense wanneer dit sleg gaan met hulle en Hy is bekommerd oor almal wat vra dat Hy hulle moet beskerm. Maar die Here sal die mense van Nineve straf. Dit sal lyk soos wanneer 'n sterk stroom water hulle wegspoel. Hy sal sy vyande jaag tot in donker plekke.