Matteus 13:24-52

Matteus 13:24-52 ABA

Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n mosterd-saad in sy grond geplant het. Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word 'n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n vrou 'n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.” Jesus het al hierdie dinge vir baie mense gesê. Hy het gelykenisse vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. So het die woorde waar geword wat die profeet in die Ou Testament gesê het. Hy het gesê: “ Ek sal gelykenisse gebruik wanneer Ek met hulle praat. Daar is dinge wat mense nie geweet het nie, dit was 'n geheim. Ek sal dit vir almal vertel.” Jesus het toe weggegaan van die mense en Hy het huis toe gegaan. Sy dissipels het na Hom toe gekom en hulle het gesê: “Verduidelik asseblief vir ons wat beteken die gelykenis van die onkruid in die koringland.” Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!” Jesus het ook gesê: “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer iemand sy duur goed in die veld begrawe het. Eendag het 'n ander man die goed gekry. Hy het dit dadelik weer toegemaak. Hy was baie bly, en daarom het hy weggegaan en alles verkoop wat hy gehad het. Toe het hy daardie stuk grond gaan koop. “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer 'n man duur pêrels gesoek het en dit wou koop. Toe hy 'n baie duur pêrel sien, het hy alles verkoop wat hy gehad het en toe het hy die pêrel gaan koop.” “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer vissermanne 'n visnet in die see gooi, en hulle vang baie soorte visse. Wanneer die visnet vol visse is, dan trek die vissermanne dit uit die see tot op die sand. Dan gaan sit hulle en gooi die goeie visse bymekaar in bakke, maar hulle gooi die visse weg wat hulle nie kan eet nie. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die engele sal kom en hulle sal al die slegte mense wegvat, weg van die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here. En die engele sal dan al die slegte mense in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hard op hulle tande byt van pyn.” Jesus vra toe vir sy dissipels: “Verstaan julle al hierdie dinge?” Hulle sê vir Hom: “Ja.” Toe sê Jesus vir hulle: “Elke skrifgeleerde wat 'n dissipel word van God, die Koning wat in die hemel is, is soos iemand wat 'n huis het en wat nuwe goed en ook ou goed uithaal uit sy stoorkamer wanneer hy dit nodig het.”