Daardie selfde dag het Jesus uit die huis gegaan en Hy het by die See van Galilea gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim en Hy het daarin gaan sit. Al die mense het op die strand gestaan. Jesus het vir hulle baie dinge geleer, Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. Toe hy die saad gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het daardie saad opgepik.
“Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie.
“Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei.
“Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het gegroei en daar was baie koring. Een plant het 100 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant het 60 maal meer gegee, en 'n ander plant 30 maal meer. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”
Die dissipels het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Hoekom vertel U gelykenisse wanneer U met die mense praat?”
Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy wat in die hemel is, die Koning is en dat Hy regeer. Maar God het die ander mense nie gehelp om dit te verstaan nie. As iemand hierdie geheim net 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om dit nog beter te verstaan. Dan sal hy dit baie goed verstaan. Maar as iemand hierdie geheim nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie. Ek vertel vir die mense gelykenisse, want hulle kyk, maar hulle sien niks. Hulle hoor, maar hulle verstaan nie wat hulle hoor nie. Die profeet Jesaja se woorde is waar wat hy oor hulle geskryf het. Hy het geskryf:
“ Julle sal hoor en hoor,
maar julle sal niks verstaan nie.
Julle sal kyk en kyk,
maar julle sal niks sien nie.
Hierdie volk het hardkoppig
geword.
Hulle het opgehou luister
sodat hulle nie kan verstaan nie.
Hulle het hulle oë toegehou
sodat hulle nie kan sien nie
en nie kan verstaan nie.
Ek wil hulle gesond maak,
maar hulle wil nie verander
en lewe soos Ek wil hê nie.”
Jesus het ook gesê: “Julle is gelukkige mense, want julle oë kan sien en julle ore kan hoor en julle kan verstaan. Ek sê vir julle, en dit is seker: Baie profete en mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, wou baie graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. En hulle wou baie graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.”
“Julle moet nou luister na wat die gelykenis van die saaier beteken.
“Weet julle wat dit beteken wanneer die saad op die voetpad in die koringland geval het? Dit is wanneer iemand die boodskap hoor dat God Koning is, maar nie die boodskap verstaan nie. Die duiwel kom na hom toe en hy vat die woorde weg wat God in sy hart gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor en glo en bly is daaroor, maar hy is soos 'n plant wat nie diep wortels het nie en net 'n kort tydjie lewe. Hy hoor die boodskap en hy glo dit, maar wanneer die mense hom daaroor verdruk, en hy begin swaarkry, dan hou hy op om te glo.
“En wanneer die saad tussen die dorings val, is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor, maar hy is bekommerd oor die dinge van die wêreld en hy dink hoe hy kan ryk word. Daarom kan die boodskap nie sy lewe verander nie, soos die saad wat nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer 'n mens die boodskap hoor en dit verstaan. Die boodskap verander sy lewe, soos die saad wat vrugte dra. By party mense is die vrugte 100 maal meer as die saad wat die man gesaai het. By party mense is die vrugte 60 maal meer, en by party mense is dit 30 maal meer.”
Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ”
Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n mosterd-saad in sy grond geplant het. Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word 'n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.”