Job 6

6
Job sê die pyle van die Almagtige is in hom
1Daarna het Job begin praat. Hy het gesê:
2“As ek al my swaarkry
op 'n weegskaal kan weeg,
3dan sal dit swaarder wees as die sand by die see.
Daarom het ek gepraat voordat ek goed gedink het,
4want die pyle van die Almagtige is in my,
ek drink van die gif van die pyle.
God het my baie bang laat word.
5'n Wildedonkie balk nie wanneer hy
gras het om te eet nie,
'n bees bulk nie by sy kos nie.
6'n Mens eet nie kos sonder sout nie,
die wit van 'n eier smaak nie lekker nie.
7Ek sal dit nie eet nie,
dit is kos wat my siek sal maak.”
Job vra hoe hy nog kan aanhou lewe
8“Ek wens dat God vir my
sal gee wat ek vra,
ek wens dat Hy sal doen
wat ek wil hê.
9God moet besluit om my
stukkend te trap,
Hy moet sy hand uitsteek
en my doodmaak.
10Dan sal ek tevrede wees,
my pyn sal aanhou,
maar ek sal nog altyd bly wees,
want ek het nie stilgebly
oor wat die heilige God gesê het nie.
11Waar sal ek die krag kry
om aan te hou lewe?
Hoe kan ek aanhou lewe totdat
my tyd daar is om te sterf?
12Ek is nie so hard soos klip nie,
my liggaam is nie gemaak van
koper nie.
13Nee, ek het niks krag nie,
ek kan myself nie help nie.”
Job sê sy vriende is ontrou
14“As dit vir iemand te swaar is
om vir sy vriende te doen
wat hy moet doen,
dan respekteer hy nie meer
die Almagtige nie.
15My vriende is ontrou,
hulle is soos 'n watersloot.
16Wanneer die ys en die sneeu smelt,
dan vloei die waterstrome,
17maar wanneer dit warm word,
dan vloei die water nie meer nie
en die sloot word droog.
18Mense wat verbykom op die pad,
gaan na die sloot, maar hulle kry
niks water nie,
hulle sterf van die dors.
19 Handelaars uit die lande Tema en Skeba
hoop dat hulle daar water sal kry,
20maar hulle bly dors,
hulle het water kom soek,
maar hulle het niks gekry nie.
21Ek kry by julle ook niks.
Toe julle sien hoe sleg dit
met my gaan,
het julle bang geword.
22Is dit omdat ek vir julle gevra het
om iets vir my te gee?
Het ek vir julle gevra om omkoopgeld
te betaal om my vry te maak?
23Het ek gevra dat julle moet help
om my vry te laat wegkom van 'n vyand?
Het ek gevra dat julle my moet loskoop
van wrede mense?”
Job sê hy het nog altyd reg gedoen
24“Julle moet vir my sê wat ek moet doen,
dan sal ek stilbly.
Ek wil weet wat ek verkeerd
gedoen het,
julle moet dit vir my sê.
25As julle eerlik praat,
dan sal ek nie seerkry nie,
maar die dinge wat julle vir my sê,
beteken niks.
26Dink julle dat die dinge wat ek sê,
verkeerd is?
Wil julle nie hoor wat 'n moedelose mens
sê nie?
27Julle sal lootjies trek oor 'n weeskind,
julle sal julle vriend verkoop.
28Maar kyk nou in my oë,
ek sal nie vir julle lieg nie.
29Julle moet asseblief ophou
om my te beskuldig,
julle moet ophou,
ek het nog altyd reg gedoen.
30Het ek verkeerde dinge gesê?
Dink julle ek het nog nie
swaargekry nie?”

Tans Gekies:

Job 6: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid