Johannes 5:16-47
Johannes 5:16-47 ABA
Die Jode het begin om slegte dinge te doen aan Jesus omdat Hy die man op 'n Sabbatdag gesond gemaak het. Jesus het vir hulle gesê: “My Vader werk nog altyd, ook op die Sabbatdag. Daarom doen Ek dit ook.” Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God. Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook. Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om 'n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees. “Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe. Die Vader oordeel niemand nie. Nee, Hy sê die Seun kan die mense oordeel. Daarom moet almal die Seun eer, soos hulle die Vader eer. As iemand die Seun nie eer nie, dan eer hy ook nie die Vader nie, die Vader wat die Seun na die wêreld gestuur het. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die mense wat luister na wat Ek, die Seun, sê, en wat glo in God wat My gestuur het, daardie mense het klaar die ewige lewe. Hulle is nie meer geestelik dood nie, hulle lewe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal iets gebeur, ja, dit het al klaar begin gebeur: Die mense wat geestelik dood is, sal nou die stem van die Seun van God hoor. Almal wat dit hoor en glo, sal geestelik weer begin lewe. “Die Vader lewe en Hy laat mense lewe. Hy het hierdie lewe ook vir die Seun gegee sodat die Seun ook mense kan laat lewe. Die Vader het ook gesê die Seun mag oordeel, want Hy is die Seun van die mens. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer almal wat nou klaar dood is en in hulle grafte lê, sal hoor dat die Seun hulle roep. Almal wat reg gelewe het, sal uitkom uit hulle grafte. Hulle sal weer begin lewe sodat hulle die ewige lewe kan kry. Almal wat sleg gelewe het, sal weer begin lewe sodat die Seun hulle kan oordeel. Ek, die Seun, mag nie self besluit om iets te doen nie. Ek luister eers wat die Vader vir My sê, dan oordeel Ek. Ja, Ek oordeel regverdig, want dit is nie Ék wat besluit wat Ek moet doen nie. Ek doen net wat die Vader wil hê, Hy wat My na die wêreld gestuur het.” Jesus het vir die Jode gesê: “As Ek self sê wie Ek is, dan beteken my woorde niks. Maar daar is Iemand Anders wat sê wie Ek is. Dit is God. Ek weet dat die dinge wat Hy van My sê, waar is. Julle het mense na Johannes die Doper toe gestuur en hy het die waarheid oor My gepraat. Maar dit is nie nodig dat mense moet sê wie Ek is nie. Ek sê dit vir julle sodat julle kan glo en sodat God julle kan red. Johannes was soos 'n lamp wat brand en helder skyn, en julle was 'n kort tydjie bly oor sy lig. “Daar is ander dinge wat sê wie Ek is, daardie dinge sê dit beter as wat Johannes dit gesê het. Dit is alles wat die Vader gesê het Ek moet doen. Die dinge wat Ek doen, wys dat die Vader My na die wêreld gestuur het. “Die Vader wat My gestuur het, het ook gesê wie Ek is. Julle het die Vader se stem nog nooit gehoor nie. Julle het nog nooit gesien hoe Hy lyk nie. Julle het nie die Vader se boodskap in julle harte nie, want die Vader het My na die wêreld gestuur, maar julle glo nie in My nie. Julle lees die Ou Testament om uit te vind hoe julle die ewige lewe kan kry, en dit is die Ou Testament wat sê wie Ek is. Maar julle wil nie na My toe kom en die ewige lewe kry nie. Ek vra nie dat mense My moet eer nie. Ek ken julle. Ek weet daar is nie liefde vir God in julle harte nie. “Dit is nie Ek wat besluit het om na die wêreld te kom nie. Die Vader het My gestuur, maar julle aanvaar My nie. Maar as iemand anders self besluit om te kom, dan sal julle hom aanvaar. Julle kán nie glo nie, want julle wil eer hê van mekaar, nie eer van die enigste God nie. Julle moenie dink dit is Ek wat vir die Vader sal sê wat julle verkeerd gedoen het nie. Julle het gedink Moses sal julle help, maar dit is hý wat vir die Vader sê wat julle verkeerd gedoen het. Julle het nie vir Moses geglo nie, Moses wat oor My geskryf het. Daarom glo julle ook nie in My nie. As julle nie glo wat Moses geskryf het nie, dan sal julle ook nie glo wat Ek sê nie.”



