Jeremia 2:2-7
Jeremia 2:2-7 ABA
“Gaan praat met die mense van Jerusalem. Hulle moet goed hoor wat jy sê. Jy moet vir hulle sê Ek sê: “Jerusalem, jy was vir My soos 'n bruid. So onthou Ek jou. Jy was lief vir My toe jy jonk was, toe jy my bruid was. Jy het saam met My geloop in die woestyn, die plek waar mense nie koring saai nie. Israel is net Myne, hulle is soos die eerste koring-are, en Ek sal almal swaar straf wat van hierdie koring-are eet.” Dit het die Here gesê. Nageslag van Jakob, al die families van Israel, julle moet luister na wat die Here sê. Die Here vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen teen julle voorvaders? Hoekom het hulle weggegaan van My? Hoekom het hulle saam met afgode geloop, afgode wat niks beteken nie? So het julle voorvaders self niks geword. “Hulle het nie gevra: “ ‘Waar is die Here wat vir ons uit Egipte gebring het, die Here wat ons deur die woestyn gebring het?’ nie. Dit is 'n droë plek waar dit baie gevaarlik is, 'n plek waar daar nie water is nie en waar dit donker is, 'n plek waar niemand kom nie en waar niemand woon nie. Ek het julle gebring in 'n land vol vrugtebome waar julle lekker kon eet van alles, maar toe het julle my land onrein gemaak. Julle het die land wat aan My behoort, vuil gemaak met julle sonde.


