Deuteronomium 18

18
Die priesters moet dele van die offers kry
1Moses het gesê: “Die priesters van die nageslag van Levi, die hele Levi-stam, het nie 'n stuk van die land gekry saam met die ander Israeliete nie, hulle het nie grond gekry wat hulle eie grond is nie. Hulle mag die vuur-offers eet wat aan die Here behoort. 2Die priesters het nie hulle eie grond by die ander Israeliete nie. Die Here self behoort aan hulle, Hy het dit vir hulle belowe. 3Hier is die dinge wat die Israeliete vir die priesters moet gee: Elke persoon wat 'n bees of 'n skaap of 'n bok offer, moet vir die priester 'n skouerblad van die dier gee, ook die kakebene en die pens van die dier. 4Julle moet ook vir die priester die eerste koring en wyn en olyf-olie gee, ook die eerste wol en die eerste hare wat julle van julle skape en bokke afskeer. 5Julle moet dit doen omdat julle God die Here vir Levi en sy nageslag uit al die stamme gekies het om vir Hom in die tempel te werk. 6Ja, ook wanneer 'n Leviet 'n vreemdeling is op 'n ander plek en hy wil vir die Here kom werk, dan mag hy enige tyd uit enige plek in die hele land Israel kom na die plek wat die Here sal kies, 7en dan mag hy vir die Here werk soos die ander Leviete wat die werk vir die Here daar doen. 8Hy mag dieselfde kos eet wat hulle eet, ook wanneer hy van sy oupa of sy pa geld ge-erf het.”
Die Israeliete moenie die dinge doen wat die ander volke doen nie
9“Wanneer julle in die land kom wat julle God die Here vir julle gee, dan moet julle nie leer om die dinge te doen wat daardie volke doen nie, die Here haat dit. 10Niemand moet sy kind verbrand nie, niemand moet sê hy weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. Hy moet ook nie sê hy sien tekens en hy weet wat sal gebeur nie, of hy kan toor, 11of hy kan met slange praat, of hy kan vir die gees van iemand wat dood is, vra wat sal gebeur, of hy is 'n waarsêer nie. 12Want die Here haat elke mens wat hierdie dinge doen, en daarom jaag die Here daardie volke weg om plek te maak vir julle. 13Julle moet aan die Here behoort met julle hele hart. 14Julle sal nou ander volke se grond gaan vat, daardie volke luister na mense wat sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie, hulle luister na waarsêers, maar julle mag dit nie doen nie, julle God die Here wil nie hê dat julle dit moet doen nie.”
Die Here sal profete stuur
15“Julle God die Here sal een van julle stuur om 'n profeet te wees soos ek. Julle moet luister na daardie profeet. 16Julle het dit vir julle God die Here gevra by Horeb-berg toe julle daar bymekaar was. Julle het gesê: ‘Ons wil nie weer die stem van ons God die Here hoor nie, ons wil nie weer hierdie groot vuur sien nie, want dan sal ons sterf.’
17“Die Here het toe vir my gesê: ‘Hulle is reg, 18Ek sal vir hulle 'n profeet stuur, die profeet sal een van hulle eie mense wees. Ek sal vir hom sê wat hy moet sê, en hy sal vir hulle alles sê wat Ek vir hom sê. 19En Ek sal self die persoon straf wat nie luister na wat Ek sê wanneer Ek die profeet stuur nie. 20Maar as 'n profeet dink hy mag iets sê wat Ek nie gesê het hy moet sê nie, dan moet daardie profeet sterf, ook as die profeet sê ander gode het hom gestuur om iets te sê.’
21“Julle sal miskien dink: Hoe sal ons weet wanneer dit die Here is, en wanneer dit nie die Here is wat gepraat het nie? 22Wanneer 'n profeet sê die Here het hom gestuur om te sê iets sal gebeur, maar dit gebeur nie, dan sal julle weet die Here het dit nie gesê nie, dan het die profeet self gedink hy moet dit sê. Julle moenie bang wees vir wat daardie profeet sê nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid