ROMEINE 15:1-6

ROMEINE 15:1-6 NLV

Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfel en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie. Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou. Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.” Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou. Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges. Dan sal julle almal in ’n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God, die Vader van Jesus Christus ons Here.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid