MARKUS 8:1-13

MARKUS 8:1-13 NLV

Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.” Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?” “Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord. Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel. Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word. Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta. Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer. Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken. Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.” Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 8:1-13

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid