MARKUS 5:1-12

MARKUS 5:1-12 NLV

Hulle het toe oorkant die see in die gebied van die Geraseners aangekom. Net toe Jesus uit die skuit klim, het ’n man met ’n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop. Hy het tussen die grafte gebly. Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ’n ketting nie. Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak; dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaargeruk. Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie. Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap. Hy het Jesus van ver af raakgesien. Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer. Hy het met ’n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste! In die Naam van God, moenie my seermaak nie!” (Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”) Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?” “My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.” Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie. Teen die heuwel was daar ’n groot trop varke aan die wei. Die onrein geeste smeek Hom toe: “Stuur ons in die varke in. Laat ons in hulle invaar.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid