JEREMIA 30

30
Beloftes van verlossing
1Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê: 2“Die Here, die God van Israel, sê: Alles wat Ek vir jou sê, moet jy in ’n boek neerskryf. 3Die tyd kom dat Ek die omstandighede van my volk Israel en Juda sal verander. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het sodat hulle dit weer in besit kan neem. Ek, die Here, sê dit!”
4Hier volg die boodskap wat die Here vir Israel en Juda gegee het.
5Die Here sê:
“Ek hoor hoe my volk
uitroep van angs!
Daar is vrees en nie rustigheid nie.
6Laat Ek jou ’n vraag vra:
Kan mans
babas in die wêreld bring?
Nou waarom staan hulle dan
soos ’n vrou in kraam:
hande op hulle heupe,
bleek in die gesig?
7Nog nooit in die geskiedenis
was daar al ooit
so ’n verskriklike tyd nie.
Dit is ’n tyd van moeilikheid
vir Israel#30:7 Grondteks Jakob.,
maar op die ou end
sal hulle daaruit gered word!
8“Daardie dag,” sê die Here,
die Almagtige,
“sal Ek die juk breek
wat op julle nekke is
en julle boeie verwyder.
Geen vreemdeling sal meer
oor julle baasspeel nie.
9Hulle sal My,
die Here hulle God, dien.
Ek sal ook ’n koning aanstel
uit die nageslag van Dawid.”
10Die Here sê:
“Israel, my kneg, moenie bang
of verskrik wees nie.
Ek sal julle verlos uit ver plekke,
en julle nageslag uit ballingskap.
Israel sal terugkeer,
en weer rus en vrede
in hulle eie land hê.
Niemand sal hulle bangmaak nie.
11Ek is by julle en
Ek sal julle red, sê die Here.
Ek sal die nasies vernietig
onder wie Ek julle verstrooi het,
maar julle
sal Ek nie vernietig nie.
Ek dissiplineer julle.
Ek kan julle nie ongestraf laat nie.”
12Die Here sê:
“Julle beserings is ongeneeslik,
julle wonde kan nie gesond
word nie.
13Niemand kan julle saak
behartig nie.
Daar is ook nie medisyne
vir julle wonde
of genesing vir julle nie.
14Al julle bondgenote
het julle in die steek gelaat.
Hulle is nie langer besorg
oor julle nie.
Want Ek het julle gewond
asof Ek julle vyand is.
Julle oortredings was baie,
julle sondes oorvloedig.
15Waarom skreeu julle so
omdat julle seerkry?
Niks kan julle pyn
laat verdwyn nie.
Ek straf julle
omdat julle so baie oortree
en soveel sonde gedoen het.
16“Maar eendag sal hulle
wat julle verslind,
self vernietig word.
Al julle vyande
sal self in gevangenskap gaan.
Mense wat julle besteel,
sal besteel word.
Wie waag om julle aan te val,
sal self aangeval word.
17Ek sal julle gesond maak
en julle wonde genees,”
sê die Here,
“omdat julle ’n verstoteling
genoem word:
Sion, vir wie niemand omgee nie.”
18Maar die Here sê:
“Wanneer Ek julle terugbring
uit ballingskap en julle lot verander,
sal Jerusalem herbou word
waar nou net bouvalle is.
Die paleis sal ook weer
soos voorheen lyk.
19Die mense sal weer vrolik wees
en liedere sing
omdat hulle dankbaar is.
En Ek sal hulle laat vermeerder.
Hulle sal ’n groot volk wees,
en ander sal hulle respekteer.
20Dit sal met hulle kinders
goed gaan,
soos vroeër.
Ek sal hulle weer
as ’n volk
voor My vestig.
As iemand sou waag
om hulle te onderdruk,
sal Ek hulle straf.
21Een van hulle eie mense
sal hulle leier wees,
nie ’n vreemdeling nie.
Ek sal hom nooi
om voor My te kom,
want wie kan kom
as Ek hom nie genooi het nie?”
vra die Here.
22“Julle sal my volk wees
en Ek sal julle God wees.”
23Maar neem kennis:
die Here se woede
is soos ’n storm wat losbars.
Dit is soos ’n orkaan
wat die slegte mense tref.
24Die Here se verskriklike woede
sal nie bedaar nie
totdat Hy bereik
wat Hy beplan het.
Wanneer die tyd aanbreek,
sal julle dit verstaan.

Tans Gekies:

JEREMIA 30: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid