DEUTERONOMIUM 18

18
Onderhoud van die Leviete
1“Onthou dat die Levitiese priesters en die res van die stam van Levi nie grond in die land sal ontvang soos die ander stamme van Israel nie. In plaas daarvan sal die priesters en Leviete van die vuuroffers vir die Here eet. Dit sal hulle erfenis wees. 2Hulle sal geen grondgebied van hulle eie tussen hulle landgenote hê nie. Die Here is self hulle erfdeel net soos Hy hulle beloof het.
3“Die priesters mag wel aanspraak maak op dele van die offers wat die volk bring. Van ’n bees of ’n skaap kan die priesters die blad, die kakebene en die pens kry. 4Jy moet ook vir die priesters die eerste deel van die koringoes, die nuwe wyn, olyfolie en die eerste skeersel wol gee. 5Die Here jou God het die stam van Levi uit al jou stamme gekies om vir altyd diens te doen in die Naam van die Here.
6“Wanneer ’n Leviet uit die dorp in Israel waar hy as vreemdeling gewoon het, wil verhuis na die plek wat die Here sal kies, 7mag hy daar in die Naam van die Here sy God diens lewer net soos sy mede-Leviete wat die Here daar dien. 8Hy het aanspraak op sy deel van die offers bo en behalwe wat hy van sy familie geërf het.”
Moenie doen wat die heidennasies doen nie
9“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee, moet jy nie die afskuwelike gebruike na-aap van die nasies wat daar lewe nie. 10Daar mag nooit iemand tussen julle wees wat sy seun of dogter as ’n brandoffer verbrand nie.#18:10 Of Moet nooit jou seun of dogter deur vuur laat gaan nie. Moenie betrokke raak by waarsêery of goëlery of by die interpretasie van voortekens of towery, 11of beswerings of iemand wat geeste oproep of iemand wat dooies raadpleeg nie. 12Enigiemand wat sulke dinge doen, is ’n gruwel vir die Here. Dit is juis omdat ander nasies sulke dinge doen dat die Here jou God hulle voor jou gaan verdryf. 13Jy moet onberispelik wees voor die Here jou God. 14Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, raadpleeg goëlaars en waarsêers, maar die Here jou God verbied jou om sulke dinge te doen.”
Ware en vals profete
15“Die Here jou God gaan vir jou ’n profeet na vore laat kom, iemand uit jou mede-Israeliete, soos ek. Luister na daardie profeet. 16Dit is wat jy van die Here jou God gevra het toe jy by Sinaiberg#18:16 Of Horeb. bymekaar was: ‘Ons kan nie langer na die stem van die Here jou God luister of na die groot vuur kyk nie, anders gaan ons sterf.’
17“Die Here het toe vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek sal doen wat hulle vra. 18Ek sal ’n profeet soos jy onder die mede-Israeliete na vore laat kom. Ek sal die profeet voorsê wat om te sê en hy sal die volk alles vertel wat Ek hom beveel. 19Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie luister na die boodskappe wat die profeet namens My verkondig nie. 20’n Profeet wat in die naam van gode praat of wat valslik aanspraak maak om namens My te praat, moet sterf.’ 21Jy kan dalk wonder: ‘Hoe sal ons weet wanneer is die profesie van die Here of nie?’ 22As die profeet iets in die Naam van die Here sê en dit gebeur nie, dan het die Here nie daardie boodskap gegee nie. Die profeet het dan uit sy eie gepraat en jy hoef jou nie aan hom te steur nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid