1 TESSALONISENSE 2

2
Paulus herinner die Tessalonisense aan sy onkreukbare optrede
1Julle weet self, broers en susters#2:1 Grondteks broers., dat ons besoek aan julle nie tevergeefs was nie. 2Ondanks die mishandeling en beledigings wat ons, soos julle weet, vroeër in Filippi moes verduur, het ons vertroue op ons God ons moed gegee om te midde van sterk teenkanting sy Goeie Nuus#2:2, 9c Of evangelie. aan julle te verkondig. 3Ons prediking#2:3 Grondteks Ons oproep. destyds het immers nie uit misleiding, onsuiwer motiewe of bedrog voortgevloei nie.
4Nee, ons praat omdat God ons gekeur het. Hy het die Goeie Nuus aan ons toevertrou. Ons doel is nie om mense tevrede te stel nie, maar God. Hy ondersoek die motiewe van ons harte. 5Julle weet dat ons nie destyds besig was met ’n gevleiery of ’n skelm geldmakery nie. God is ons getuie! 6Ons het ook nie by mense eer gesoek nie; nie by julle nie en ook nie by ander mense nie. 7Al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het, was ons soos babatjies#2:7 Sommige manuskripte was ons liefdevol en sag. teenoor julle. Of soos ’n ma wat haar eie kinders aan haar laat drink, 8só het ons oor julle gevoel#2:8 Grondteks so het ons na julle verlang.. Ons was heeltemal bereid om nie net God se Goeie Nuus met julle te deel nie, maar ook ons eie lewe, want ons het julle liefgekry.
9Broers en susters#2:9a Grondteks Broers., julle onthou mos nog hoe hard ons gewerk en geswoeg het. Terwyl ons dag en nag#2:9b Grondteks nag en dag. gewerk het om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie, het ons God se Goeie Nuus#2:2, 9c Of evangelie. aan julle verkondig. 10Julle én God is getuies van hoe toegewyd, opreg en onberispelik ons in ons optrede was teenoor julle wat glo.
11Julle weet ook hoe ons – soos ’n pa met sy eie kinders maak – julle elkeen 12aangespoor en aangemoedig het om tot eer van God te lewe. Hy roep julle om deel te hê aan sy koningsheerskappy en heerlikheid.
13Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord, wat julle by ons gehoor het, aangeneem het nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo.
14Broers en susters#2:14a, 17 Grondteks Broers., julle het navolgers geword van God se gemeentes in Judea – dit wil sê die Christene#2:14b Grondteks in Christus Jesus. daar. Julle het net so swaar onder julle volksgenote gely as wat hulle onder die Jode gely het.
15Die Jode het die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg. Verder stel hulle God nie tevrede nie, ja, hulle is gekant teen alle mense 16deur te probeer keer dat ons aan die nie-Joodse nasies vertel hoe om verlos te word. Deur dit te doen, is hulle gedurig besig om hulle sondes meer te maak#2:16 Grondteks maak hulle voortdurend hulle sonde vol.. God se oordeel het egter nou uiteindelik oor hulle gekom.
Timoteus se positiewe berig oor die gemeente
17Broers en susters#2:14a, 17 Grondteks Broers., nadat ons ’n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons hard probeer om julle persoonlik weer te sien omdat ons baie na julle verlang. 18Ons wóú dus na julle toe kom – ek, Paulus, meer as een keer – maar Satan het ons gekeer. 19Immers, as ons met Jesus ons Here se terugkeer voor Hom moet staan, wie#2:19a Grondteks wat. sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans#2:19b Grondteks kroon van roem. wees, as dit nie julle is nie? 20Júlle is mos ons eer en ons blydskap!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid