YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 89

89
Die hemel loof u wondermag
1'n Gedig van Etan die Esragiet.
2Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade,
sy trou verkondig aan komende geslagte.
3Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit,
dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.”
4U het gesê: “Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene,
Ek het 'n eed gesweer vir my dienaar Dawid:
5Ek sal vir jou 'n nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.” Sela
6Die hemel loof u wondermag, Here,
die hemelinge loof u trou.
7Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word?
Wie onder die hemelwesens is soos die Here?
8Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering 'n heilige ontsag.
Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom.
9Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
10U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.
11U het die monster Rahab verbrysel, hy is verslaan.
Deur u groot mag het U u vyande uitmekaargejaag.
12Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde,
die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak.
13Die noorde en die suide, U het dit geskep;
Tabor en Hermonberg roem u Naam.
14U het 'n magtige arm,
sterk is u hand, kragtig u regterhand.
15U troon is gebou op geregtigheid en reg,
liefde en trou staan in u diens.
16Dit gaan goed met die volk
wat kan jubel tot u eer,
wat in u lig lewe, Here.
17Hulle besing u Naam die hele dag,
hulle prys u reddingsdade;
18U is die krag waarin hulle roem.
Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet.
19Ons koning behoort aan die Here,
ja, ons beskermer behoort aan die Heilige van Israel.
20U het 'n openbaring gegee,
oor u troue dienaar het U gesê:
“Ek het aan 'n held my bystand geskenk,
aan 'n dapper jong man uit die volk 'n ereplek gegee.
21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,
hom met my heilige olie tot koning gesalf.
22My mag sal hom ondersteun,
my krag sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,
gewetenlose mense sal hom nie verdruk nie.
24Ek sal sy teëstanders voor hom verpletter
en dié wat hom haat, verslaan.
25My trou en liefde sal by hom wees:
deur My sal hy oorwin.
26Ek sal sy heerskappy uitbrei tot oor die see,
sy gesag tot oorkant die riviere.
27Hy sal My aanroep met die woorde: ‘U is my Vader,
my God, die rots wat my redding is.’
28Ek stel hom eerste,
die magtigste koning op aarde.
29Vir altyd handhaaf Ek my trou teenoor hom;
my verbond met hom staan vas.
30Ek sal vir hom altyd nakomelinge verseker
sodat sy troon vas sal staan so lank daar 'n hemel is.
31As sy nakomelinge nie handel volgens my woord nie
en nie lewe volgens my bepalings nie,
32as hulle my voorskrifte verontagsaam
en my gebooie nie nakom nie,
33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf
en hulle oor hulle sonde met swaar slae tref.
34Maar my liefde sal Ek van hom nie terughou nie,
my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie versaak nie,
nie een van my beloftes terugtrek nie.
36Ek, die Heilige, het 'n eed afgelê,
en my woord aan Dawid sal Ek nie verbreek nie:
37daar sal altyd nakomelinge van hom wees,
sodat sy troon so blywend soos die son sal wees.
38Soos die maan sal dit altyd daar wees.
Solank die hemel daar is, sal dit vas bly staan.” Sela
39Maar nou het U in u toorn
tog u gesalfde verstoot en verwerp.
40U het die verbond met u dienaar nie in ag geneem nie,
sy kroon tot in die grond vertrap.
41U het al sy stadsmure afgebreek,
sy vestings in puin gelê.
42Almal wat daarlangs kom, beroof hom;
die buurvolke behandel hom met minagting.
43U het sy teëstanders laat seëvier,
al sy vyande laat juig.
44U het hom voor die vyand laat vlug,
hy kon nie staande bly in die oorlog nie.
45Aan sy koninklike luister het U 'n end gemaak,
sy troon teen die grond gegooi.
46U het sy jeugdige krag gebreek
en hom diep verneder. Sela
47Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?
Sal die vuur van u gramskap dan bly brand?
48Dink tog daaraan hoe kort die lewe is,
hoe min daar in die lewe is
vir al die mense wat deur U geskep is.
49Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie,
wat homself kan red uit die mag van die doderyk? Sela
50Waar is u liefde van vroeër, Here,
wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?
51Dink, Here, aan die smaad wat my aangedoen is,
aan alles wat ek moes verduur van baie volke.
52Die mense van wie hierdie smaad kom, is u vyande, Here,
dit is u gesalfde vir wie hulle smaad waar hy ook gaan.
53Aan die Here kom die lof toe vir altyd. Amen, ja, amen.

Currently Selected:

PSALMS 89: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy