Parallel
106
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
1Prys die Here!
Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring?
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
3Dit gaan goed met mense wat die reg handhaaf,
wat by elke geleentheid geregtigheid doen.
4Dink aan my, Here, in u liefde vir u volk,
sluit my ook in by u redding,
5dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou
en mag deel in die blydskap van u volk,
my mag verheug saam met dié wat aan U behoort.
6Ons het gesondig, net soos ons voorvaders,
ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig.
7Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie,
hulle het nie gedink aan al u dade van trou nie,
hulle het teen U in verset gekom by die Rietsee.
8Maar Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam
en om sy mag bekend te maak.
9Hy het die Rietsee aangespreek en dit het opgedroog,
Hy het sy volk oor die seebodem laat trek soos oor droë grond.
10So het Hy hulle gered uit die hand van hulle haters,
hulle bevry uit die mag van die vyand.
11Die waters het hulle teëstanders verswelg,
nie één het oorgebly nie.
12Tóé het sy volk sy beloftes geglo
en sy lof besing.
13Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het
en nie op sy leiding gewag nie.
14Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn,
daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef.
15Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het,
maar hulle van siekte laat wegteer.
16Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset
en teen Aäron wat aan die Here gewy was.
17Toe het die aarde geskeur en vir Datan verslind,
dit het die bende van Abiram verswelg.
18'n Vuur het hulle hele bende verteer,
die goddelose het in die vlamme omgekom.
19By Horeb het hulle 'n kalf gemaak,
voor 'n god van metaal gekniel.
20Hulle het die magtige teenwoordigheid van God
verruil vir die beeld van 'n bees wat gras vreet.
21So het hulle vir God, hulle redder, vergeet,
Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het,
22wonderdade in die land van Gam,
magtige dade by die Rietsee.
23Die Here wou hulle verdelg,
maar Moses, sy uitverkorene,
het by Hom vir hulle in die bres getree
om sy gramskap af te keer,
sodat Hy hulle nie vernietig het nie.
24Hulle het 'n waardevolle land versmaai
en die belofte van die Here nie geglo nie;
25hulle het in hulle tente gesit en mor
en nie na die Here geluister nie.
26Toe het Hy 'n eed afgelê
dat Hy hulle in die woestyn sou laat omkom,
27hulle nageslag sou laat sterf onder heidense nasies,
hulle oor die wêreld sou verstrooi.
28Hulle het Baäl-Peor aangehang
en geëet van wat aan die dooie afgode geoffer is.
29Hulle het die Here uitgetart met wat hulle gedoen het,
en 'n plaag het onder hulle uitgebreek.
30Pinehas het opgetree en die skuldiges gestraf,
en die plaag het opgehou.
31Dié optrede is deur al die geslagte heen
vir Pinehas as 'n daad van geregtigheid toegereken.
32Die volk het die Here se toorn by die Meribawaters laat ontvlam,
en Moses het die wrange vrugte van hulle optrede gepluk:
33hulle het hom so verbitterd laat raak
dat hy onbesonne dinge gesê het.
34Hulle het nie die ander volke uitgeroei
soos die Here hulle beveel het nie,
35maar hulle met die heidene vermeng
en húlle praktyke aangeleer:
36hulle het die afgode van die heidene begin dien
en daarin verstrik geraak.
37Hulle het hulle seuns en dogters aan veldduiwels geoffer
38en onskuldige bloed vergiet,
die bloed van hulle seuns en dogters
wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het.
So is die land met bloed bevlek.
39Die volk het hulle verontreinig deur hulle optrede
en het troubreuk gepleeg deur hulle dade.
40Die toorn van die Here het teen sy volk ontvlam,
Hy het 'n weersin gekry in die volk wat aan Hom behoort
41en hulle aan heidene oorgegee,
sodat hulle haters oor hulle geheers het.
42Hulle vyande het hulle verdruk
en hulle onder hulle gesag laat buig.
43Talle kere het die Here sy volk gered,
maar hulle het opstandig gebly
en dieper in hulle sonde weggesink.
44Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie;
Hy het hulle smeekgebede verhoor.
45Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink,
en in sy groot liefde was Hy genadig.
46Hy het hulle medelye laat vind
by dié wie se gevangenes hulle was.
47Red ons, Here ons God,
maak ons bymekaar tussen die volke uit,
dat ons u heilige Naam kan loof
en ons in u lof kan verheug.
48Aan die Here die God van Israel kom die lof toe
tot in die allerverste toekoms.
Die hele volk moet sê: “Amen!
Prys die Here!”