YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 23

23
Bileam se eerste uitspraak
1Bileam het vir Balak gesê: “Bou hier vir my sewe altare en maak sewe bulle en sewe ramme gereed vir offers.”
2Balak het gedoen wat Bileam gesê het, en hy en Bileam het toe op elkeen van die altare 'n bul en 'n ram geoffer. 3Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer terwyl ek eenkant toe gaan. Miskien sal die Here Hom aan my openbaar, en wat Hy ook al aan my bekend maak, sal ek vir jou sê.”
Bileam het na 'n kaal hoogte toe gestap, 4en daar het God Hom aan Bileam geopenbaar.
Bileam het toe gesê: “Ek het sewe altare laat bou en op elke altaar 'n bul en 'n ram geoffer.”
5Die Here het vir Bileam gesê wat hy moet sê en hom beveel: “Gaan na Balak toe terug en sê dit vir hom.”
6Bileam het by Balak gekom waar hy en al die amptenare van Moab by die brandoffer staan.
7Toe kom Bileam met hierdie uitspraak:
“Uit Aram het Balak my laat kom,
die koning van Moab het my laat kom
uit die berge in die ooste.
‘Kom,’ het hy gesê, ‘vervloek Jakob vir my;
kom, kondig 'n ramp aan oor Israel.’
8Maar hoe kan ek hóm vervloek
vir wie God nie vervloek nie,
hoe kan ek 'n ramp oor hóm aankondig
as die Here dit nie aangekondig het nie?
9“Hier van die hoë rotse af sien ek vir Israel,
van die hoogtes af kyk ek na hom!
Ek sien 'n volk wat op sy eie woon
en hom van die nasies afsonder.
10Wie kan die stof tel, wie vir Jakob,
wie kan selfs een kwart van Israel se getal bereken?
Mag ek ook eendag as opregte sterwe,
mag my einde soos hierdie volk s'n wees.”
11Toe sê Balak vir Bileam: “Wat het jy my nou aangedoen? Ek laat jou kom om my vyande te vervloek, en jy kom seën hulle!”
12Bileam het geantwoord: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het.”
Bileam se tweede uitspraak
13Toe sê Balak vir Bileam: “Kom saam met my na 'n ander plek toe. Van daar af sal jy net 'n deel van hulle kan sien, nie almal nie. Vervloek hulle vir my van daar af!”
14Balak vat hom toe na 'n uitkykpos op die top van Pisgaberg. Daar bou hy sewe altare en offer op elke altaar 'n bul en 'n ram.
15Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer, terwyl ek eenkant toe gaan om van God 'n openbaring te vra.”
16Die Here het Hom aan Bileam geopenbaar, hom gesê wat om te sê en hom beveel: “Gaan na Balak toe terug en sê dit vir hom.”
17Bileam het toe by Balak gekom waar hy en die amptenare van Moab by die brandoffer staan. Balak vra hom toe: “Wat het die Here gesê?”
18Toe kom Bileam met hierdie uitspraak:
“Kom luister, Balak,
hoor wat ek sê, seun van Sippor.
19God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie,
'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.
Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,
iets belowe en dit nie uitvoer nie?
20Ek het die opdrag om te seën:
Hý het geseën, en ék kan niks daaraan verander nie.
21Jy sal nie vind dat 'n ramp vir Jakob tref nie,
jy sal Israel nie sien swaarkry nie:
die Here hulle God is by hulle;
oor Hom, hulle koning, jubel hulle.
22God het hulle uit Egipte laat trek,
sy krag is vir hulle soos die horings van 'n buffel.
23Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie,
geen waarsêery iets teen Israel nie.
Nou word daar oor Jakob, oor Israel gesê:
‘Wat het God nie alles gedoen nie!’
24Dit is 'n volk wat soos 'n leeumannetjie opstaan,
wat hom uitrek soos 'n leeu,
en nie weer gaan lê voordat hy sy prooi verskeur het
en sy slagoffers se bloed gedrink het nie.”
25Toe sê Balak vir Bileam: “As jy hulle nie kan vervloek nie, moet jy hulle ook nie seën nie!”
26Bileam het geantwoord: “Ek het jou mos gesê ek sal net doen wat die Here vir my sê.”
Bileam se derde uitspraak
27Toe sê Balak vir Bileam: “Kom ek vat jou na 'n ander plek toe. Miskien vind God dit tog goed dat jy die volk daarvandaan vir my vervloek.”
28Balak vat toe vir Bileam na die top van Peor toe wat afkyk op die droë wêreld. 29Bileam het vir hom gesê: “Bou hier vir my sewe altare en maak vir my sewe bulle en sewe ramme gereed vir offers.”
30Balak het gedoen wat Bileam gesê het en op elke altaar 'n bul en 'n ram geoffer.

Currently Selected:

NUMERI 23: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy