YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 63

63
Ek het volke getrap in my toorn
1Wie is dit wat daar aankom uit Edom,
wat daar uit Bosra kom met bloedrooi klere aan?
Wie is so indrukwekkend met daardie rooi klere aan,
so vol krag?
Dit is Ek, die Here,
Ek wat oorwinning aankondig,
wat magtig is om te red.
2Waarom is u klere so rooi,
waarom lyk dit soos dié van iemand wat die wynpers trap?
3Ek alleen het die wynpers getrap,
niemand van die volke het My bygestaan nie.
Ek het op hulle getrap in my toorn,
Ek was woedend en Ek het hulle getrap.
Hulle bloed het op my klere gespat,
en Ek het my klere daarmee rooi gemaak.
4Ek het besluit om nou my vyande te straf;
die tyd van verlossing vir my volk het aangebreek.
5Ek het rondgekyk, maar daar was niemand om te help nie,
Ek was ontsteld toe niemand My bystaan nie.
Ek het self opgetree,
my woede het My bygestaan.
6Ek het volke getrap in my toorn,
Ek het hulle laat steier deur my woede,
Ek het hulle bloed oor die grond laat vloei.
U is tog ons vader
7Ek sal die troue liefde van die Here verkondig,
die roemryke dade van die Here,
alles wat Hy vir ons gedoen het,
sy groot goedheid vir Israel,
alles wat Hy gedoen het in sy genade,
in sy groot liefde.
8Hy het gesê: Hulle is my volk,
kinders wat nie ontrou sal word nie.
Daarom het Hy hulle gered
9uit al hulle nood.
Hy was vir hulle nie 'n vyand nie,
Hy self was die engel wat hulle gered het.
Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming;
Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra.
10Maar hulle het in opstand gekom
en het sy Heilige Gees bedroef,
daarom het die Here vir hulle 'n vyand geword
en het Hy self teen hulle geveg.
11Toe het sy volk gedink aan die ou dae,
aan die tyd van Moses, en gevra:
Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het
saam met hulle herder?
Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het?
12Waar is Hy wat sy groot mag saam met Moses laat gaan het,
die waters voor sy volk oopgekloof het
en vir Hom 'n ewige Naam gemaak het?
13Waar is Hy wat sy volk deur die diep waters gelei het
sonder dat iemand struikel,
hulle gelei het soos perde deur 'n woestyn gelei word?
14Soos 'n trop beeste na 'n groen vallei toe afgaan,
so het die Gees van die Here
sy volk na 'n woonplek toe gebring,
so het U u volk gelei om die roem van u Naam te vermeerder.
15Kyk uit die hemel uit af,
sien ons tog raak uit u heilige en verhewe woning.
Waar is u brandende liefde, u magtige dade?
Is U nie meer oor ons bewoë nie?
Ontferm U U nie meer oor ons nie?
16U is tog ons vader.
Abraham weet niks van ons nie
en Israel is nie van ons bewus nie;
U, Here, is ons vader,
van ouds af is u Naam: Ons Verlosser.
17Waarom het U ons laat afdwaal van u paaie af, Here?
Waarom het U ons hardkoppig gemaak
sodat ons U nie gedien het nie?
Wees tog weer soos vroeër ter wille van u dienaars,
ter wille van die volk wat aan U behoort.
18'n Kort rukkie kon u gewyde volk u tempel gebruik,
maar ons vyande het dit verwoes.
19Ons het geword soos dié
oor wie U nie van ouds af geregeer het nie,
oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.

Currently Selected:

JESAJA 63: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy