YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 45

45
1So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores,
vir wie Hy as heerser aangestel het,
aan wie Hy nasies onderwerp
en voor wie Hy konings hulle wapens laat neerlê,
voor wie Hy deure oopmaak
en poorte nie gesluit laat bly nie:
2Ek self sal voor jou uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
Ek sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.
3Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat jy kan weet dat Ek die Here is,
dat Ek jou op jou naam geroep het,
Ek, die God van Israel.
4Ter wille van my dienaar Jakob,
van Israel wat Ek uitverkies het,
het Ek jou op jou naam geroep,
gee Ek jou 'n eretitel hoewel jy My nie ken nie.
5Ek is die Here, daar is geen ander nie,
buiten My is daar geen God nie.
Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie.
6Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af
tot in die weste kan weet
dat daar buiten My geen God is nie;
Ek is die Here, daar is geen ander nie.
7Ek maak die lig en skep die donker;
Ek gee voorspoed en skep rampspoed.
Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.
8Laat die reën uitsak, hemel,
laat redding reën, wolke,
breek oop, aarde, laat voorspoed ontkiem,
laat trou uitspruit.
Ek is die Here, Ek skep hierdie dinge.
Durf julle aan My voorskryf?
9Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het,
'n potskerf tussen potskerwe van klei.
Durf die klei vir die een wat dit vorm, sê: “Wat maak jy?”
Durf wat jy gemaak het, van jou sê:
“Hy kan nie sy hande gebruik nie!”
10Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê:
“Waarom verwek u 'n kind?”
of vir sy ma: “Waarom bring u 'n kind in die wêreld?”
11So sê die Here, die Heilige van Israel,
die Skepper van Israel:
Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur?
Durf julle aan My voorskryf oor my kinders
en oor die werk van my hande?
12Ek het die aarde gemaak;
die mensdom wat daarop is, het Ek geskep.
Ek het met my hande die hemel oopgespan
en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.
13Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied;
Ek verwyder elke hindernis op sy pad.
Hy sal my stad weer opbou
en my ballinge terugstuur
sonder dat hy betaling of 'n geskenk daarvoor ontvang,
sê die Here die Almagtige.
Die Here alleen is God
14So sê die Here:
Die opbrings van Egipte en die winste van Kus
sal na jou toe oorgaan en sal joune wees,
ook die mense van Seba, die groot mense.
Hulle sal agter jou loop en jou volg in kettings,
hulle sal diep voor jou buig en teenoor jou bely:
“Waarlik, God is by jou,
en daar is geen ander nie,
daar is nie nog 'n God nie.”
15U is die God wat U verborge hou,
die God van Israel, die Redder!
16Dié wat afgode maak, staan almal verleë,
teleurgestel in hulle verwagting,
hulle kom bedroë daarvan af.
17Maar Israel word deur die Here gered
met 'n blywende redding.
Hulle sal nie verleë staan nie en nooit teleurgestel word nie.
18So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het,
Hy wat alleen God is,
Hy wat die aarde gevorm, gemaak het,
dit gereed gemaak, geskep het,
dit gevorm het, nie om leeg te wees nie,
maar om bewoon te word:
Ek is die Here; daar is geen ander nie.
19Ek het nie in die geheim gepraat
iewers in 'n donker land nie.
Ek het nie aan die nakomelinge van Jakob gesê om My in 'n onbewoonbare land te dien nie.
Wat Ek, die Here, sê, bring redding,
my woorde gee lewe.
Net van die Here kom daar redding en krag
20Kom almal bymekaar, kom nader vir die beslissing,
vlugtelinge uit die nasies.
Dié wat afgodsbeelde dra wat van hout gemaak is,
en tot 'n god bid wat nie kan red nie,
het geen insig nie.
21Stel julle saak en bring julle bewyse,
beraadslaag gerus met mekaar daaroor.
Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig?
Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur?
Is dit nie Ek, die Here, nie?
Daar is buiten My geen God nie;
net Ek is 'n God wat regverdig is en red.
22Kom na My toe dat julle gered kan word,
almal op die aarde,
want Ek is God, daar is geen ander nie.
23Ek lê 'n eed af in my eie Naam,
wat Ek sê, is betroubaar,
dit is 'n woord wat nie onvervul sal bly nie:
voor My sal elke knie buig,
in my Naam sal elke tong 'n eed aflê.
24Hulle sal sê:
“Net van die Here kom daar redding en krag.”
Almal wat teen Hom te kere gegaan het,
sal beskaamd daarvan afkom
wanneer hulle voor Hom moet verskyn.
25Maar al die nakomelinge van Israel sal gered word
omdat hulle aan die Here behoort,
en hulle sal in Hom roem.

Currently Selected:

JESAJA 45: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy