YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 27

27
Die brandofferaltaar
(Vgl. Eks. 38:1-7)
1“Jy moet 'n altaar van doringhout maak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog. 2Jy moet horings maak aan sy vier hoeke en dit moet 'n eenheid met die altaar vorm. Jy moet die altaar met brons oortrek. 3Maak potte om die as te verwyder, ook skoppe, komme, vurke en vuurpanne. Jy moet al hierdie toebehore van brons maak.
4“Jy moet 'n bronstraliewerk om die altaar sit en 'n bronsring aan elke boonste hoek van die traliewerk vassit. 5Sit die traliewerk onder die rand van die altaar vas, sodat dit halfpad teen die altaar afloop. 6Jy moet draaghoute van doringhout vir die altaar maak en dit met brons oortrek. 7Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word. Die draaghoute moet weerskante van die altaar wees om dit te kan dra. 8Jy moet die altaar van plank maak, in die vorm van 'n kas. Maak dit presies soos dit vir jou op die berg gewys is.”
Die voorhof
(Vgl. Eks. 38:9-20)
9“Jy moet ook 'n voorhof vir die tabernakel maak. Aan die suidekant, die regterkant, moet daar gordyne van goed geweefde linne wees, vyftig meter breed. 10Om die gordyne te hang, moet daar twintig style met twintig bronsvoetstukke wees en ook kramme aan die style, en silwergordynstokke.
11“Ook aan die noordekant moet die gordyne vyftig meter breed wees. Daar moet twintig style en twintig bronsvoetstukke wees, kramme aan die style, en silwergordynstokke.
12“In die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet die gordyne vyf en twintig meter breed wees met tien style en tien voetstukke.
13“Die breedte van die voorhof aan die voorkant, die oostekant, moet ook vyf en twintig meter wees. 14Die gordyne aan die een kant hiervan moet sewe en 'n half meter breed wees, dit moet drie style en drie voetstukke hê, 15en aan die ander kant moet die gordyne ook sewe en 'n half meter breed wees met drie style en drie voetstukke. 16In die ingang van die voorhof moet daar 'n afskorting van tien meter wees. Dit moet van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne wees, netjiese borduurwerk. Om dit te hang, moet daar ook nog vier style en vier voetstukke wees. 17Vir die style van die voorhof moet daar heeltemal rondom silwergordynstokke wees, en ook silwerkramme en bronsvoetstukke. 18Die lengte van die voorhof moet vyftig meter wees, sy breedte vyf en twintig en sy hoogte twee en 'n half. Dit moet van goed geweefde linne wees en sy voetstukke van brons.
19“Al die toebehore van die tabernakel en al sy tentpenne, sowel as dié vir die voorhof, moet van brons wees.”
Die sorg vir die lampe
(Vgl. Lev. 24:1-4)
20“Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand. 21In die tent van ontmoeting, net buite die voorhangsel wat voor die getuienis hang, moet Aäron en sy seuns die lampe van die aand af tot die môre toe voor My laat brand. Dit is 'n voorskrif wat vir altyd geld vir die hele Israel.”

Currently Selected:

EKSODUS 27: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy