YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 11

11
Rehabeam se poging om die opstand te onderdruk
(Vgl. 1 Kon. 12:20-24)
1Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen.
2Maar die woord van die Here het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: 3“Sê vir Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: 4So sê die Here: Moenie optrek en teen julle broers veg nie. Gaan terug, elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.”
Hulle het geluister na die woorde van die Here en die veldtog teen Jerobeam laat vaar.
Die vestingstede van Rehabeam
5Rehabeam het in Jerusalem gewoon. Vir die beveiliging van Juda het hy 'n aantal stede herbou. 6Hy het die volgende vestingstede in Juda en Benjamin herbou: Betlehem, Etam, Tekoa, 7Bet-Sur, Soko, Adullam, 8Gat, Maresa, Sif, 9Adorajim, Lakis, Aseka, 10Sora, Ajalon en Hebron. 11Hy het die vestings versterk, bevelhebbers oor hulle aangestel en daar voorrade kos, olie en wyn gehou. 12In elke stad was daar ook skilde en spiese. So het hy die vestings baie goed versterk en beheer gehad oor Juda en Benjamin.
Die priesters en die Leviete vestig hulle in Juda
13Die priesters en die Leviete wat oral in Israel gewoon het, het uit al hulle gebiede gekom en in Rehabeam se gebied kom woon. 14Die Leviete moes hulle weivelde en besittings verlaat en na Juda en Jerusalem toe kom omdat Jerobeam en sy opvolgers hulle nie meer toegelaat het om priesters vir die Here te wees nie. 15Jerobeam het sy eie priesters aangestel vir die hoogtes en die veldgode en die kalwerbeelde wat hy gemaak het.
16In navolging van die Leviete het mense wat die Here die God van Israel wou dien, uit al die Israelitiese stamme na Jerusalem toe gekom om daar offerandes te bring aan die Here die God van hulle voorvaders. 17So het hulle die koninkryk van Juda verder versterk en drie jaar by Rehabeam seun van Salomo gestaan. Hulle het dié drie jaar in die spore van Dawid en Salomo gevolg.
Die vrouens en kinders van Rehabeam
18Rehabeam was getroud met Magalat. Haar pa was Jerimot seun van Dawid en haar ma was Abihajil dogter van Eliab, seun van Isai. 19Magalat het vir hom die seuns Jeüs, Semarja en Saham in die wêreld gebring. 20Later is Rehabeam ook getroud met Maäka dogter van Abisalom en by haar het hy vier seuns gehad: Abia, Attai, Sisa en Selomit.
21Rehabeam het vir Maäka dogter van Abisalom liewer gehad as vir al sy ander vrouens en byvrouens. Hy het altesaam agtien vrouens en sestig byvrouens gehad en was die pa van ag en twintig seuns en sestig dogters. 22Hy het vir Abia seun van Maäka as die eerste in rang aangestel en hom die gesag oor sy broers gegee met die oog op die koninklike opvolging. 23Verder het Rehabeam die slim beleid gevolg om sy seuns oral in die versterkte stede van Juda en Benjamin te laat woon. Hy het gesorg dat hulle van 'n oorvloed lewensmiddele voorsien is en het deur onderhandeling vir hulle 'n menigte vrouens verkry.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy