Parallel
24
Dawid spaar Saul se lewe
1Daarvandaan het Dawid in die skuilplekke by En-Gedi gaan bly. 2Net toe Saul van die veldtog teen die Filistyne af terugkom, is aan hom vertel: “Dawid is in die En-Gediwoestyn.”
3Saul het drie afdelings manskappe wat uitgesoek is uit die hele Israel, gevat en gegaan om Dawid en sy manne op te spoor in die omgewing van Klipbokrotse. 4Onderweg het Saul afgekom op skaapkrale met 'n grot daarby. Hy het daar ingegaan om homself te ontlas, terwyl Dawid en sy manne agter in die grot sit.
5Dawid se manne sê toe vir hom: “Kyk daar, vandag sê die Here vir jou: Ek gee jou vyand in jou hand en jy moet met hom maak soos jy dit goedvind.”
Dawid het opgestaan en ongemerk die punt van Saul se mantel afgesny. 6Maar agterna het Dawid se gewete hom gepla omdat hy Saul se mantelpunt afgesny het. 7Hy het vir die manne gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen my koning, die gesalfde van die Here, oplig, want hy is die gesalfde van die Here.”
8So het Dawid sy manne met sy woorde gekeer en hulle nie toegelaat om teen Saul op te tree nie. En Saul het opgestaan en sy koers gegaan uit die grot uit.
9Dawid het ook klaargemaak en uit die grot uitgegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “U Majesteit, die Koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep gebuig.
10Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang? 11U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as 't ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ 12My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem. 13Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie. 14Soos die spreekwoord van die voorgeslag lui:
“ ‘Boosheid gaan uit van die boosdoeners,’
“maar ek sal nie teen u wees nie. 15Agter wie aan het die koning van Israel opgetrek? Agter wie kom u aan? Agter 'n dooie hond aan; agter een enkele vlooi aan! 16Die Here sal regter wees en Hy sal regspreek tussen ons. Hy sal sorg en my saak behartig en aan my reg verskaf teenoor u.”
17Nadat Dawid dit alles vir Saul gesê het, het Saul gevra: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?”
Toe begin Saul hard huil 18en hy sê vir Dawid: “Jy is 'n beter man as ek, want jy het aan my goed gedoen en ek het jou kwaad aangedoen. 19Jy het so pas duidelik getoon watter weldaad jy my bewys het deurdat jy my nie doodgemaak het toe die Here my in jou hand oorgegee het nie. 20Sal iemand sy vyand ongedeerd sy koers laat gaan as hy hom raakloop? Mag die Here jou met weldade beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. 21En nou, ek weet jy sal koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand bestendig wees. 22Lê dan nou in die Naam van die Here 'n eed af dat jy nie my nageslag sal uitroei nie en so in my familie aan my naam 'n einde sal maak nie.”
23Nadat Dawid vir Saul 'n eed afgelê het, het Saul huis toe gegaan, maar Dawid en sy manne het opgegaan na die bergskuiling toe.