YouVersion Logo
Search Icon

1 KONINGS 10

10
Die besoek van die koningin van Skeba
(Vgl. 2 Kron. 9:1-12)
1Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo en die Naam van die Here vertel word en sy het toe self gekom om Salomo met moeilike vrae te toets. 2Sy het na Jerusalem toe gekom met 'n baie groot gevolg en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink, 3en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir die koning onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord.
4Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het, 5die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes, hulle monderings, sy skinkers en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan. 6Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. 7Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie. U het alles wat ek oor u wysheid en voortreflikheid gehoor het, ver oortref. 8Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor! 9Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”
10Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.
11Bowendien het die skepe van Hiram wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog 'n groot hoeveelheid jenewerhout en edelstene gebring. 12Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Daar is tot vandag toe nie sulke jenewerhout gesien nie.
13Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.
Die rykdom, weelde en mag van Salomo
(Vgl. 2 Kron. 9:13-28)
14Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop, 15behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het.
16Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik. 17Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.
18Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 19Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen. 20Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.
21Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie. 22Die koning het 'n vloot gehad wat saam met dié van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.
23Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid. 24Die hele wêreld het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor. 25Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.
26Salomo het 'n mag van strydwaens en ruiters bymekaargebring. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend ruiters gehad. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem. 27Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld. 28Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is.
29Om 'n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en 'n perd ongeveer een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.

Currently Selected:

1 KONINGS 10: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy