YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 34

34
Moses se dood
1Moses het toe van die vlaktes van Moab af na die Neboberg toe geloop. Hy het tot op die top van die Pisgaberg geklim. Die berg is reg oorkant Jerigo, maar aan die ander kant van die Jordaan. Daar het die Here vir hom die hele land gewys, die land wat Israel sou kry. Moses het die land gesien: die grond van Gilead af tot by Dan se land, 2die land wat Naftali sou kry, en dié van Efraim en Manasse. Ook die land van Juda tot by die Middellandse See, 3die Suidland en die vlakte, die laagte rondom Jerigo, die stad met die baie palms, tot by Soar.
4Toe het die Here vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek belowe het om vir Israel te gee. Ek het al vir julle oupagrootjies, vir Abraham en Isak en Jakob, belowe dat ek hierdie land vir julle sal gee. Ek het vir hulle gesê: Ek gee hierdie land vir julle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek het nou toegelaat dat jy die land met jou oë kan sien. Maar jy mag nie in die land ingaan nie.”
5Moses, die man wat die Here gedien het, is toe daar in die land Moab dood, net soos die Here gesê het. 6Die Here het self vir Moses begrawe in ’n vlakte in die land Moab, regoor Bet-Peor. Tot vandag toe weet niemand waar Moses se graf is nie. 7Moses het die hoë ouderdom van 120 bereik. Hy was nog sterk en gesond. Sy oë het nog nie eens ingegee nie. En hy het nog niks makeer nie.
8Die mense van Israel was baie hartseer oor Moses, hulle leier. Hulle het 30 dae lank niks anders gedoen nie. Hulle het net oor Moses gehuil, daar op die vlakte van Moab. Daarna het hulle verder getrek.
9Josua die seun van Nun was hulle nuwe leier. Hy was ’n slim man, want Moses het hom geleer wat om te doen. Die volk Israel het alles gedoen wat hy hulle beveel het. Hulle het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het om vir hulle te sê.
10Daar was nog nie weer ’n man soos Moses nie. Hy het vir die volk kom sê wat die Here hom beveel het, want die Here het Moses as sy vriend beskou. Hulle het met mekaar gepraat, en hulle het mekaar persoonlik geken. 11Die Here het hom gestuur om Israel uit Egipte te gaan red. Moses het al die wonderlike dinge gedoen wat die Here vir die farao, die koning van Egipte, en al die mense van Egipte wou wys. 12Ja, Moses het al die groot en wonderlike dinge gedoen wat die Here vir Israel wou wys. Die Here het vir Israel gewys wie Hy is en hoe sterk Hy is. En Hy het Moses gebruik om dit te doen.

Currently Selected:

Deuteronomium 34: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy