YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 33

33
Moses wens die volk voorspoed toe
1Toe het Moses die Israeliete voorspoed toegebid. Net voor sy dood het hy vir hulle gesê: 2“Die Here het uit die Sinaiwoestyn gekom en Hom aan ons bekendgemaak. Van die Seïrberge af het ons Hom sien nader kom. Toe Hy by Paranberg verbygaan, het ons die vuur in sy regterhand sien brand. Hy het gekom met tien duisende van die mense wat Hom dien.
3“U het gekom, Here, omdat U u volk liefhet. U hou die mense in u eie hand vas wat U vir Uself eenkant gesit het om U te dien. U beskerm hulle. Hierdie mense loop oral agter U aan. Hulle doen wat U vir hulle sê. 4Wat U ons beveel, is die kosbaarste besitting wat u volk op aarde het. 5Die Here het ons Regeerder geword. Israel is vir Hom baie spesiaal. Al die leiers van die volk het toe bymekaargekom, saam met al die stamme van Israel. En hulle het die Here tot hulle koning verklaar.”
6Moses het toe met die stam van Ruben gepraat: “Laat die stam van Ruben lewe en nie uitsterf nie, al is dit ’n klein stam.”
7Moses het toe vir die stam van Juda gesê: “Here, hoor as Juda tot U roep in hulle nood en bring hulle terug sodat hulle deel van u volk sal wees. Maak hulle sterk sodat hulle hulle vyande sal oorwin.”
8Moses het toe oor die stam van Levi gesê: “Here, Levi se mense werk in u huis. U het vir hulle die werk gegee om U elke dag te dien. Hulle is elke dag op hulle pos. U het by Massa gekyk of hulle getrou sal wees en U het by die Meribawaters ’n hofsaak teen hulle gevoer. 9Maar hulle het U nie in die steek gelaat nie. Hulle het alles gedoen wat U hulle beveel het. Hulle het u ooreenkoms met u volk veilig beskerm. Hulle was meer lojaal aan U as aan hulle ouers en hulle eie kinders. 10Laat hulle nou vir Israel leer wat die Here verwag. Laat hulle Israel herinner aan wat die Here wil hê hulle moet doen. Hulle moet elke dag wierook voor die Here brand om te wys dat hulle Hom respekteer. Net hulle mag offers vir die Here bring. 11Maak die kinders van Levi voorspoedig, Here. Aanvaar alles wat hulle doen. Vernietig hulle vyande. Slaan die mense wat hulle haat plat sodat hulle nie weer op hulle voete kan kom nie.”
12Oor die stam van Benjamin het Moses gesê: “Die Here het die mense van Benjamin lief. En as die Here jou liefhet, is jy altyd veilig. Hy hou sy hand oor hierdie mense en Hy beskerm hulle sodat moeilikheid hulle nie kan onderkry nie. Hulle bly by Hom.”
13Moses het toe oor die stamme van Josef gepraat: “Mag die Here die land waar hierdie stamme bly, voorspoedig maak. Mag Hy op die regte tyd vir hulle reën stuur. Mag daar volop dou op hulle grond wees. En mag daar genoeg onderaardse water wees. 14Mag Hy hulle ryk maak met goeie oeste. Mag Josef elke maand genoeg kry om te eet. 15Mag hy rekordoeste teen die berge se hange hê, en mag die heuwels se skatte hom ryk maak. 16Mag die Here vir hom die beste gee wat uit die aarde kom. Mag die Here hom voorspoedig maak, die Here wat Hom daar in die doringbos aan Moses bekendgemaak het. Mag dit alles met Josef gebeur. Mag hy die regeerder oor Israel, sy broers, wees. 17Josef is so sterk soos ’n jong bul. Hy loop trots rond, want hy is so sterk soos ’n buffel. Hy sal vreemde nasies wegjaag, en hulle sal vlug tot aan die eindes van die aarde. Dit is my wens vir die twee stamme van Josef, vir Efraim en Manasse.”
18Oor die stamme van Sebulon en Issaskar het Moses gesê: “Mag die mense van Sebulon voorspoedig wees as hulle buite die grense van hulle land rondtrek. En mag die mense van Issaskar voorspoedig wees as hulle by die huis is. 19Hierdie twee stamme nooi die mense om saam met hulle na die berg toe te gaan sodat hulle daar offers vir die Here kan bring. Die Here het bepaal watter offers ’n mens moet bring. Hulle bly langs die see, en die see maak hulle ryk, want daar is baie kosbare skatte in die see.”
20Moses het oor die stam van Gad gesê: “Mag die Here die een wat Gad se grense verder skuif, voorspoedig maak! Gad sit reg soos ’n leeu net voor hy spring. Sy prooi is die sterk mense, die leiers van ander nasies. 21Die mense van Gad het die beste deel van die land vir hulleself uitgekies. Een van die beste dele van die land is vir hom gegee. Toe die leiers van die volk bymekaargekom het, was dit Gad wat gedoen het wat die Here van hom vra. Hy het reg gedoen.”
22Oor die stam van Dan het Moses die volgende kwytgeraak: “Dan is die welpie van ’n leeu. Hou hom dop. Hy gaan skielik uit sy woonplek, uit Basan uit sy prooi bespring.”
23Oor Naftali se stam het Moses gesê: “Naftali, jy geniet die allerbeste. Die Here het jou ryk gemaak. Jy is baie voorspoedig. Mag jou grense nog verder verskuif, mag jou land groter word na die westekant en die suidekant toe.”
24Moses het oor die stam van Aser gesê: “Mag Aser voorspoediger wees as sy broers, die ander seuns van Jakob. Hy is die gunstelingseun van sy pa. Mag dit met hom goed gaan. Mag hy baie ryk word uit die olie wat in sy land voorkom. 25En mag hy veilig in sy stede bly sodat sy vyande niks aan hom kan doen nie. Mag hy baie oud word en baie lank in sy land woon.
26“Daar is niemand soos die God van Israel nie! Hy kom van die hemel af waar Hy woon om jou te help as jy in die moeilikheid is. Hy is die Koning van die heelal. Hy ry op die wolke. 27Jy kan maar by Hom gaan wegkruip. Hy is die God wat verhewe is bo tyd. Hy hou sy arms onder jou en Hy hou jou regop, Israel. Hy roei jou vyande voor jou uit. Hy beveel jou: roei jou vyande volledig uit! 28Daarom sal Israel veilig wees. Die Here sal hulle beskerm. Hy sal hulle voorspoedig maak. Hy gee vir hulle ’n land wat volop graan en wyn het. Die grond word elke nag met dou natgemaak sodat dit vrugbaar is. 29Hoe het die Here jou nie voorspoedig gemaak nie, Israel! Watter ander volk is soos jy, ’n volk wat deur die Here gered is? Hy beskerm jou en Hy veg vir jou. Jou vyande buig laag voor jou. Hulle kruip voor jou. En jy trap op hulle.”

Currently Selected:

Deuteronomium 33: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy