YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 105

105
1Prys die Here! Bid tot Hom!
Vertel vir almal op aarde wat die Here gedoen het.
2Sing liedere, maak die Here se Naam groot.
Jubel oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen.
3Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam.
Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees.
4Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag. Kruip by Hom weg.
Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie.
5Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het.
Onthou sy magtige dade, hoe Hy mense in nood uitgered het.
6Julle is deel van die nageslag van Abraham, die kneg van die Here.
Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is.
7Die Here is ons God!
Die hele aarde is vol van al sy magtige dade.
8Hy onthou die ooreenkoms wat Hy met sy volk gemaak het,
sy beloftes wat Hy aan duisende geslagte gegee het!
9Dit is dieselfde ooreenkoms wat Hy met Abraham gemaak het,
en sy belofte aan Isak.
10Dit is aan Jakob dat Hy sy woord gegee het
en met Israel dat Hy ’n ewige ooreenkoms gemaak het 11toe Hy gesê het:
“Al die grond in Kanaän behoort van nou af aan jou, dit is jou erfporsie, jou besitting!”
12Toe Israel nog maar ’n klein groepie was,
vreemdelinge in ’n nuwe land,
13het hulle van landgebied tot landgebied rondgetrek,
van een klomp mense na ’n ander.
14Maar Hy het nie toegelaat dat iemand hulle ooit sleg behandel nie.
Selfs magtige konings is nie toegelaat om hulle aan te val nie.
15God het vir hulle gesê: “Moet dit nie waag om julle hand teen my kinders op te lig nie. Hulle is Myne.
Moet dit ook nie waag om een van my boodskappers seer te maak nie.”
16Die Here het ’n hongersnood oor die hele land laat kom.
Daar was nie ’n krieseltjie kos oor om te eet nie.
17Maar Hy het ’n man voor hulle uit gestuur.
Dit is Josef, wat as ’n slaaf verkoop is.
18Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak
en hom agter ysterdeure toegesluit.
19Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het,
totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk!
Josef het die toets geslaag.
20Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal.
Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat
21en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis.
Josef het beheer gehad oor al sy besittings.
22Die koning se huishouding was onder Josef se bestuur.
Hy was die hoof oor die belangrike amptenare.
Al die slim mense moes hy onderrig.
23Israel het toe na Egipte toe gekom,
Jakob het as ’n vreemdeling in Gam se land gaan bly.
24Die Here het gesorg dat hulle baie kinders het,
baie meer as die mense wat hulle verdruk het.
25Hy het die Egiptenaars teen sy mense laat draai.
Later was hulle so vol haat dat hulle sy dienaars sleg behandel het.
26Die Here het toe vir Moses, sy dienskneg, gestuur,
ook vir Aäron wat Hy self uitgekies het.
Hulle het groot wonderwerke gedoen.
27Daar in Gam se land het hulle vir die Egiptenaars gewys hoe sterk die Here is.
28Die Here het alles laat donker word,
maar hulle het geweier om na Hom te luister.
29Hy het hulle water in bloed verander.
Al hulle visse het doodgegaan.
30Skielik het hulle land gewemel van paddas, tot in die koning se slaapkamer.
31Toe die Here die bevel gee, het steekvlieë op hulle toegesak.
Muskiete was die hele wêreld vol.
32Die Here het hael en donderweer oor hulle gestuur in plaas van sagte reën.
33Swaar donderweer het hulle land uitmekaargeslaan.
Hy het al hulle vrugtebome en wingerdstokke van die aarde af weggevee.
Daar het nêrens ’n boom staande gebly nie.
34Hy het net ’n woord gesê, toe sak sprinkane op hulle toe. Hulle was so baie, jy kon hulle nie tel nie.
35Hulle het elke stukkie groenigheid in die Egiptenaars se land opgeëet.
Daar het nie ’n plant of ’n vrug iewers oorgebly nie.
36Al die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf.
In ’n oogwink was hulle sonder krag of hoop.
37Toe het Hy Israel laat wegtrek met arms vol silwer en goud.
Niemand van hulle het in Egipte agtergebly nie.
38Die mense van Egipte was bly dat hulle padgegee het,
want hulle was teen hierdie tyd baie bang.
39Die Here het elke dag ’n wolk oor sy volk uitgesprei om hulle koel te hou,
en ’n groot bol vuur in die nag om vir hulle lig te gee.
40Hulle het gebid vir kos, toe stuur Hy vir hulle kwartels om te eet,
brood uit die hemel het al hulle hongerpyne weggevat.
41Hy het ’n rots laat oopgaan, toe loop daar water uit, soos ’n magtige rivier het dit deur die droë woestyn gevloei.
42Dit alles het Hy gedoen omdat Hy sy belofte onthou,
sy belofte wat Hy aan Abraham, sy kneg, gemaak het.
43Hy het sy volk al singende laat uittrek.
Almal wat Hy uitgekies het, het gejuig van vreugde.
44Hy het vir hulle ongelowiges se grond gegee. Die land wat hulle met moeite verkry het, het God se volk in besit geneem.
45Wat ander met groot moeite in die hande gekry het, het hulle vir hulle gevat
sodat hulle daar kan doen wat Hy sê
en op die regte pad kan stap wat Hy vir hulle wys.
Prys die Here!

Currently Selected:

Psalms 105: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy