YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 51

51
Die stad gaan herstel word
1Julle wat probeer om reg te doen moet na My luister. Julle wat na die wil van die Here soek, moet luister. Onthou uit watter soort rots julle gekap is. Onthou uit watter steengroef julle kom. 2Dink aan julle stamvader Abraham. Roep Sara, julle stammoeder, in herinnering. Ek het Abraham geroep toe hy nog nie kinders gehad het nie. Ek het hom voorspoedig gemaak. Hy het ’n groot nageslag gekry.
3Die Here is jammer vir Sion. Hy gaan die puinhope van Jerusalem herstel. Hy gaan Juda se woestyn soos die tuin van Eden laat word. Die Here gaan die droë dele in tuine verander. Daar sal vreugde en vrolikheid in die stad wees. Hulle sal sing en vir die Here dankie sê.
Die Here leer die nasies
4My volk, julle moet na My luister. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal die nasies leer hoe hulle moet lewe. Ek sal vir hulle met my reëls die koers aanwys. 5Binnekort sal Ek hulle verlos. Ek is Koning oor die nasies. Die lande oorsee wag vir My. Hulle is gretig dat Ek oor hulle sal regeer. 6Kyk op in die lug. Kyk af na die grond. Die lug sal soos rook verdwyn. Die aarde sal word soos ou klere wat uitmekaarskeur. Dié wat op die aarde woon, sal doodgaan soos muskiete. Die bevryding wat Ek bring, sal vir altyd hou. My redding het geen einde nie.
Die Here veg vir sy volk
7Julle wat weet wat reg is, moet na My luister. Julle is mos ’n volk wat die wil van die Here met julle hele hart soek. Julle moenie bang wees vir mense wat julle spot nie. Julle moenie skrik as hulle julle slegsê nie. 8Hulle sal wees soos klere waaraan die motte vreet. Hulle is soos materiaal waarin daar vismotte is. Hulle hou nie vir altyd nie. Maar wat reg is, sal vir altyd hou. Wanneer Ek julle red, hou dit geslag op geslag.
9Staan tog op, Here. Gryp in met u krag. Veg weer soos U in die ou tyd lank gelede geveg het. Dit was mos U wat die seemonster Rahab verslaan het. U het die seemonster vernietig. 10Dit was U wat die water laat wegdroog het. U het onder op die bodem van die see ’n pad gemaak sodat dié wat U bevry het, deur die see kon gaan.
11Dié wat die Here vrygemaak het, sal weer terugkom na Jerusalem. Hulle sal baie bly wees as hulle in Sion aankom. Die gesigte sal straal van vreugde. Hulle sal vol blydskap wees. Hulle hartseer en swaarkry sal verby wees.
Jy hoef nie meer bang te wees nie
12Ek self praat jou moed in. Hoekom is jy dan bang vir ’n mens wat ook maar kan doodgaan? ’n Mens is mos maar soos gras wat ook kan verbygaan. 13Jy vergeet dat die Here jou gemaak het. Hy het die lug daar bo oopgespan. Hy het die grond hier onder vasgemaak. Nogtans is jy die hele dag lank bang vir jou onderdrukker wat so wreed is om alles te verwoes. Hy kan jou niks meer maak nie. 14Binnekort sal almal wat in tronke aangehou word, weer vrygelaat word. Hulle sal nie in die tronk doodgaan nie. Hulle sal nie langer honger ly nie. 15Ek is die Here jou God. Ek laat storms op die see kom. Ek laat die branders bruis. My Naam is Here van die hemelse leërmag. 16Ek het die lug oor die aarde gespan. Ek het die aarde stewig op sy plek neergesit. Ek het vir Jerusalem se inwoners gesê: “Julle is my volk.” Ek sê vir jou wat jy moet sê. Ek beskerm jou.
Julle swaarkry is verby
17Skrik wakker, Jerusalem. Staan op! Jy het die beker van die Here se woede leeggedrink. Dit het jou laat steier. 18Van almal wat jy in die wêreld gebring het, is daar nie ’n enkele een wat vir jou die pad kan wys nie. Van almal wat jy grootgemaak het, is daar nie een wat jou kan ondersteun nie. 19Wie sal sê dat hulle meegevoel het met wat met jou gebeur het? Jou land is verwoes. Die oorlog het hongersnood vir jou gebring. Wie kan jou troos? 20Jou seuns lê magteloos op die hoeke van die strate. Hulle is soos wilde diere wat in ’n strik gevang is. Die Here het hulle met sy woede getref. Hy het hulle gestraf. 21Hoor ’n bietjie hier, julle wat so swaargekry het. Julle loop en steier, maar dit is nie omdat julle dronk is nie. 22Die Here jou God sal sy volk se lot verander. Hy sê: Ek gaan die beker wat jou so laat steier het, by jou wegvat. Jy hoef nie langer die beker van my woede te drink nie. 23Ek gaan daardie beker gee vir hulle wat julle verdruk het. Hulle sal dit drink. Hulle het vir julle gesê: “Gaan lê op die grond dat ons oor julle kan loop.” Jy moes op die grond gaan lê dat hulle op jou kon trap en bo-oor jou kon loop asof jy ’n pad is.

Currently Selected:

Jesaja 51: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy