YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 11:1-6

Hebreërs 11:1-6 DB

Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie. Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood. Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang.