YouVersion Logo
Search Icon

TITUS 1

1
Opskrif en seëngroet.
1PAULUS, 'n dienskneg van God en 'n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is,
2in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het,
3en op die regte tyd sy woord bekend gemaak het deur die prediking wat aan my toevertrou is, ooreenkomstig die gebod van God, ons Verlosser — aan Titus, my ware kind volgens die gemeenskaplike geloof:
4Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en die Here Jesus Christus, ons Verlosser!
Titus word belas met die bestuur van die gemeente van Kreta en met die bestryding van die valse leraars.
5 OM hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het —
6 as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie.
7Want 'n opsiener moet as 'n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie;
8maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers;
9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.
10Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat uit die besnydenis is;
11hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins.
12Een uit hulle, hul eie profeet, het gesê: Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike.
13Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees,
14en hulle nie besig hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie.
15 Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.
16Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.

Currently Selected:

TITUS 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy