YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 45

45
Die Here sê vir Kores: Ek sal jou lei
1Die Here praat met Kores, die man wat Hy gesalf het.
Die Here het hom gehelp
om volke te oorwin.
Konings het opgehou
om oorlog te maak teen Kores
en die poorte van stede
het vir hom oopgegaan.
2Die Here sê vir Kores:
“Ek sal jou lei en Ek sal jou pad gelyk maak.
Ek sal die poorte van koper en yster breek
sodat jy kan ingaan.
3Ek sal vir jou die goed gee
wat die ander konings weggesteek het
in donker plekke.
Dan sal jy weet Ek is die Here
wat jou geroep het en wat jou naam genoem het,
Ek is die God van Israel.
4Ek het dit gedoen om my dienaars te help.
Hulle is die nageslag van Jakob,
die Israeliete, Ek het hulle gekies.
Ek het jou geroep
en Ek het jou naam genoem.
Jy het My nie geken nie,
maar Ek gee vir jou 'n spesiale naam.
5Ek is die Here, daar is nie nog
'n ander Here nie.
Net Ek is God.
Jy het My nie geken nie,
maar Ek maak jou sterk
om oorlog te maak.
6Dan sal al die volke weet
dat net Ek God is.
Ek is die Here, daar is nie 'n ander Here nie.
7Ek laat dit lig word of donker word,
Ek laat dit goed gaan of sleg gaan,
Ek, die Here, doen dit alles.
8Ek sal vrede gee soos reën
uit die wolke in die lug,
soos water uit die fonteine
in die grond.
Dit sal goed gaan,
en almal sal reg doen.
Ek, die Here, sal dit doen.”
Kores sal my stad weer bou
9Dit sal sleg gaan met iemand
wat wil stry met die God
wat hom gemaak het
en wat vir God wil sê Hy doen verkeerd.
So iemand is soos 'n stuk van 'n kleipot
wat gebreek het.
Die klei kan nie praat met die pottebakker
en sê: “Wat maak jy?
Jy werk nie reg nie.”
10Dit sal sleg gaan met iemand
wat vir sy pa en sy ma sê:
“Ek is julle kind, maar hoekom lyk ek so?”
11Dit is die Here wat praat,
die Heilige God van Israel.
Hy het Israel gemaak.
Hy sê: “Hoekom vra julle
wat sal gebeur en wie my kinders is?
Hoekom wil julle vir my sê wat Ek moet doen?
12Ek het die aarde gemaak
en die mense daarop.
My hande het die hemeldak gemaak
en Ek het dit styfgetrek soos 'n tent,
en Ek het gesê al die sterre moet daar wees.
13Ek het vir Kores gestuur
om te doen wat Ek wil hê
en Ek maak al sy paaie gelyk.
Hy sal my stad weer bou
en hy sal my mense laat terugkom,
my mense wat nou in ander lande is.
Niemand sal hom betaal om dit te doen nie.”
Dit sê die Here wat oor alles regeer.
Net die Here kan mense red
14Die Here sê vir die Israeliete:
“Ek gee vir julle al die koring van die land Egipte
en al die geld van die handelaars van die land Kus.
Die groot manne van die land Seba sal kom.
Julle sal hulle hande vasbind,
en hulle sal voor julle buig en sê:
‘Regtig, God is by julle,
en daar is nie 'n ander God nie, nie een nie.’ ”
15Niemand sien U nie, o God,
maar U is die God van Israel,
U red vir Israel.
16Die mense wat beelde van gode gemaak het,
is teleurgesteld,
hulle voel verneder en skaam.
17Maar die Here
het die Israeliete gered vir altyd.
Hulle sal nooit teleurgesteld wees
en nie weet wat om te sê nie.
18Ja, dit is die Here wat praat.
Hy het die hemel en die aarde gemaak.
Hy het die aarde gemaak,
maar Hy wil nie hê die aarde
moet leeg wees nie.
Nee, Hy het die aarde gemaak
sodat daar mense kan woon.
Hy sê:
“Ek is die Here,
daar is nie 'n ander Here nie.
19Ek het gepraat waar almal My kon hoor,
Ek het nie in 'n donker plek gepraat nie.
Ek het nie vir die nageslag van Jakob gesê
hulle moet My dien op 'n plek
waar Ek nie is nie.
Ek, die Here, praat wat reg is,
Ek sê wat regtig sal gebeur.
20Israeliete, julle wat van die ander volke wegvlug,
julle moet bymekaarkom,
julle moet saam nader kom en kom luister.
Die ander volke weet dit nie,
die mense wat houtbeelde saam met hulle dra
en bid tot gode wat hulle nie kan red nie.
21Sê vir hulle en laat hulle besluit:
Wie is dit wat lank gelede gesê het
wat sal gebeur?
Dit is Ek, die Here.
Daar is nie 'n ander God nie.
Daar is nie nog 'n God
wat regtig God is en wat mense kan red nie.
22Almal op die aarde, julle moet na My toe kom,
Ek wil julle red.
Ek is God, daar is nie 'n ander God nie.
23Ek het vir Myself belowe,
Ek het dit vas besluit, en dit sal gebeur:
Elke knie sal voor My buig,
elke mens sal my Naam noem.
24Hulle sal sê: ‘Net die Here
kan mense red en sterk maak.’
Almal wat nou sê hulle is kwaad vir die Here,
sal nie weet wat om te sê
wanneer hulle voor Hom kom staan nie.
25Maar die hele nageslag van Israel
sal aan die Here behoort.
Hulle sal wees soos Hy wil hê hulle moet wees,
en hulle sal bly wees daaroor.”

Currently Selected:

Jesaja 45: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy