YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 12

12
Die mense van Jerusalem sal gevangenes word in 'n ander land
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, jy woon tussen 'n opstandige volk. Hulle het oë om te sien, maar hulle sien nie. Hulle het ore om te hoor, maar hulle hoor nie. Hoekom? Omdat hulle 'n opstandige volk is. 3En jy, mens, jy moet al die goed gereedmaak wat jy sal wil saamneem wanneer jy in 'n ander land moet gaan woon, en jy moet vandag weggaan van jou huis na 'n ander plek. Almal moet dit kan sien. Miskien sal hulle self sien dat hulle 'n opstandige volk is. 4Hulle moet in die dag sien dat jy die goed uitbring. En jy, jy moet in die aand uitgaan. Hulle moet sien dat jy uitgaan. 5Hulle moet sien dat jy 'n gat in die stad se muur breek en dat jy deur die gat gaan. 6Hulle moet sien dat jy die goed op jou skouer sit en dat jy weggaan in die donker. Jy moet jou gesig toemaak en jy moenie na die land kyk nie. Ek gebruik jou om 'n teken te wees vir die volk Israel.”
7Ek het toe gedoen wat die Here vir my gesê het. Ek het in die dag die goed uitgebring wat ek sal wil saamneem wanneer ek in 'n ander land moet gaan woon en ek het in die aand 'n gat in die muur gebreek met my hande. Ek het in die donker uitgegaan. Hulle het gesien ek dra die goed op my skouer. 8Die volgende oggend het ek gehoor die Here sê vir my: 9“Mens, die opstandige volk, die volk Israel, het vir jou gevra wat jy doen. 10Jy moet vir hulle sê dat Ek, die Here wat Here is, sê: Ek praat nou oor die koning in Jerusalem en oor die hele volk Israel wat in die stad is. 11Jy moet sê dat jy vir hulle 'n teken is. Die vyande sal dieselfde met hulle doen wat jy gedoen het. Hulle sal gevangenes word en hulle sal in 'n ander land moet gaan woon. 12Die koning wat tussen hulle is, sal sy goed in die donker op sy skouers sit en weggaan. Hy sal 'n gat deur die muur breek om uit te gaan en hy sal sy gesig toemaak sodat hy nie na die land kan kyk nie. 13Ek sal my vangnet oor hom gooi en Ek sal hom vang. Ek sal hom na Babel bring, na Galdeër-land. Hy sal daardie land nie sien nie, maar hy sal daar sterf. 14En ek sal almal wat by die koning is en wat hom help, na al die kante toe jaag, en ook al sy soldate. Ek sal hulle self jaag met my swaard. 15Hulle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek hulle na al die kante toe jaag tussen die volke in, wanneer Ek hulle oral in ander lande laat woon. 16Ek sal 'n paar van hulle nie laat sterf in die oorlog of van honger of pes nie, sodat hulle vir die volke waar hulle kom, kan vertel van alles wat hulle gedoen het wat Ek haat. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”
17Ek het gehoor die Here sê vir my: 18“Mens, jy moet bewe wanneer jy eet en jy moet bekommerd en ontsteld wees wanneer jy water drink, 19en dan moet jy vir die mense van die land sê: Die Here, Hy wat Here is, sê vir die mense wat in Jerusalem woon, vir die mense in die land Israel: Julle sal bekommerd wees wanneer julle eet en julle sal baie bang wees wanneer julle water drink. 20Die stede waar nou mense woon, sal hope klippe word, en daar sal niemand in die land woon nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.”
Die dinge wat die Here gesê het, sal nou gebeur
21Ek het gehoor die Here sê vir my: 22“Mens, wat sê die mense van Israel altyd? Hulle sê: ‘Die Here het dinge vir die profeet gewys, maar die tyd gaan verby en niks gebeur wat die Here vir hom gewys het nie.’ 23Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal hulle laat ophou om so te praat. Hulle sal dit nie weer sê in die volk Israel nie. Jy moet vir hulle sê die tyd kom nou nader wanneer alles sal gebeur wat die Here vir sy profeet gewys het. 24Niemand sal lieg en sê die Here het vir hom iets gewys nie, niemand in die volk Israel sal aanhou sê hy weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. 25Wanneer Ek, die Here, sê dat iets sal gebeur, dan sál dit gebeur. Ek sal dit nie later laat gebeur nie. Opstandige volk, Ek sê vir julle nou dat iets sal gebeur, en Ek sal dit doen.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
26Ek het gehoor die Here sê vir my: 27“Mens, luister, die volk Israel sê: ‘Dit sal 'n lang tyd wees, dan sal die dinge gebeur wat die Here vir die profeet gewys het. Die profeet praat oor dinge wat nie gou sal gebeur nie.’ 28Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal niks wat Ek gesê het, later laat gebeur nie. Die dinge wat Ek gesê het, sal nóú gebeur.”
Dit is wat die Here gesê het, Hy wat Here is.

Currently Selected:

Esegiël 12: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy