YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 13

13
Dit sal sleg gaan met die dwase profete, die Here het niks vir hulle gewys nie
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, jy moet vir die profete van Israel sê wat Ek sê. Hulle sê hulle is profete, maar hulle het self besluit hulle is profete. Jy moet vir hulle sê: Julle moet hoor wat sê die Here. 3Die Here, Hy wat Here is, sê: Dit sal sleg gaan met die dwase profete, Ek het niks vir hulle gewys nie. Hulle doen wat hulle self besluit. 4Israel, julle profete is soos jakkalse in stede wat verwoes is. 5Profete, julle het nie gaan staan by die plekke waar die muur stukkend is en julle het nie die muur weer gebou om Israel te beskerm nie. Wanneer die dag van die Here kom, dan sal die muur nie bly staan nie. 6Die profete sê dinge wat Ek nie vir hulle gewys het nie, hulle sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie, maar hulle lieg. Hulle sê ‘Die Here het dit gesê,’ maar die Here het hulle nie gestuur nie. En dan dink hulle die dinge sal gebeur wat hulle gesê het. 7Hulle het dinge gesê wat Ek nie vir hulle gewys het nie, hulle het gesê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie, maar hulle het gelieg. Ek het niks gesê nie, maar hulle het gelieg en gesê ‘Die Here sê dit.’ 8Daarom sê die Here, Hy wat Here is: Ek is téén julle, want julle praat dinge wat nie waar is nie en julle sê julle sien dinge, maar dit is vals.”
Dit is wat die Here gesê het. 9Die Here het ook gesê: “Ek steek my hand uit en Ek straf die profete wat dinge sien wat Ek nie vir hulle gewys het nie en wat lieg en sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. Hulle sal nie 'n plek kry waar die mense bymekaar is wat aan My behoort nie, niemand sal hulle name skryf in die boek van Israel nie, en hulle sal nie kom in die land van Israel nie. Julle sal weet dat Ek die Here is. 10Hulle het my volk verlei toe hulle gesê het daar sal vrede wees en daar toe nie vrede was nie. Die volk het klippe opmekaar gepak om 'n muur te bou, en die profete het die muur met kalk wit geverf. Daarom, net daarom, 11moet jy praat met die profete wat die muur geverf het wat sal val. Jy moet vir hulle sê: Ek sal dit hard laat reën en dit sal hael, en Ek sal 'n stormwind laat waai. 12Julle moet dit weet, wanneer die muur val, dan sal mense vir julle vra: ‘Waar is die kalk waarmee julle die muur geverf het?’ Hulle sal dit vra, dit is seker.”
13Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek is kwaad vir julle omdat julle dit gedoen het. Ek sal stormwinde laat waai en Ek sal dit hard laat reën en Ek sal hael stuur wat alles stukkend slaan. 14En Ek sal die muur afbreek wat julle geverf het, die klippe sal op die grond lê en mense sal sy fondamente kan sien. Julle sal tussen die klippe sterf. Julle sal weet dat Ek die Here is. 15Ek sal die muur afbreek en Ek sal die mense wat dit geverf het, aanhou straf totdat Ek nie meer kwaad is nie. Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer 'n muur nie, en die mense wat dit geverf het, lewe nie meer nie. 16Hulle is die profete van Israel wat vir die mense van Jerusalem gesê het dat Ek hulle gestuur het en vir hulle gewys het daar sal vrede wees, maar toe was daar nie vrede nie.”
Dit is wat die Here gesê het. 17Die Here het ook vir my gesê: “Mens, jy moet na die vroue van jou volk kyk wat self besluit het om profete te wees, en jy moet hierdie boodskap van My vir hulle bring. 18Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Vroue, dit sal sleg gaan met julle wat bande om julle voor-arms vaswerk en wat kort of lang sluiers oor mense se koppe sit sodat julle hulle kan toor en laat sterf. Dink julle dat julle mense van my volk kan laat sterf en dat julle self kan aanhou lewe? 19Julle het my Naam ontwy tussen die mense van my volk, julle het net 'n paar hande vol gars en stukkies brood gekry omdat julle dit gedoen het. Julle het gelieg en julle het mense laat sterf wat nie moes gesterf het nie, maar julle het mense laat aanhou lewe wat nie moes aanhou lewe nie. My volk het geluister na julle leuens.”
20Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal die bande van julle arms afruk omdat julle dit gedoen het. Julle het die bande gebruik om mense te vang soos 'n mens voëltjies vang, julle het mense gevang, maar Ek sal hulle vrymaak. 21Ek sal julle sluiers afruk en Ek sal my volk red van julle. Julle sal nie meer met hulle kan doen wat julle wil nie. Julle sal weet dat Ek die Here is. 22Julle het gelieg vir mense wat reg wou doen en julle het hulle moedeloos laat word. Ék het hulle nie laat seerkry nie. Julle het gesê mense wat verkeerd doen, is reg, julle het nie vir hulle gesê hulle moet verander en reg doen sodat hulle kan aanhou lewe nie. 23Daarom sal julle nie meer kan lieg en sê dat Ek vir julle dinge gewys het nie. Julle sal nie meer kan sê julle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. Ek sal my volk red van julle, en julle sal weet dat Ek die Here is.”

Currently Selected:

Esegiël 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy