YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 68

68
Julle moet sing oor die krag van God
1Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm, 'n lied.
2Wanneer God opstaan,
dan jaag Hy sy vyande na al die kante toe,
dan moet almal vlug wat Hom haat.
3U jaag hulle weg soos rook wat wegwaai.
Die mense wat verkeerd doen,
sal voor God verdwyn
soos iets wat smelt naby 'n vuur.
4Maar die mense wat reg doen, sal bly wees,
hulle sal by God wees en hulle sal juig,
hulle sal vrolik sing.
5Julle moet sing vir God,
julle moet sing oor sy Naam.
Julle moet vir Hom 'n pad maak,
vir Hom wat deur die droë woestyn ry.
Sy Naam is Here,
en julle moet vir Hom juig.
6God is in sy gewyde woonplek.
Hy is 'n Pa vir weeskinders en 'n Regter
wat reg doen aan weduwees.
7God laat die mense wat alleen in die wêreld is,
in 'n huis woon.
Hy bring gevangenes uit die tronk
en Hy laat dit goed gaan met hulle.
Maar mense wat opstandig is teen Hom,
moet woon op 'n kaal en droë plek.
8O God, toe U begin loop het voor u volk,
toe U deur die wilde woestyn geloop het,
Sela
9toe U gekom het, toe het die aarde gebewe,
en reën het uit die lug geval.
Want God was naby, Sinai-berg was hier,
God was naby, Hy, die God van Israel.
10O God, U het oral baie reën laat val,
U het u droë land weer laat lewe.
11Die mense wat aan U behoort, het daar gewoon,
U was goed, o God,
U het gesorg vir die mense wat swaarkry.
12Toe die Here gesê het hulle moet dit doen,
het die vroue die goeie nuus gebring:
“Baie soldate,
13konings en hulle leërs, het gevlug.
Hulle het gevlug.”
Die vroue wat by die huis gebly het,
verdeel die goed wat hulle mans saamgebring het,
14niemand bly by die skaapkrale nie.
Daar is beeldjies van duiwe,
mense het hulle oorgetrek met silwer,
en hulle vlerke is van goud.
15Toe die Almagtige die konings
na al die kante toe gejaag het,
het dit gesneeu op Salmon-berg.
16Basan-berg, jy wat 'n groot berg is,
Basan-berg, berg wat baie hoë punte het,
17al die berge wat baie hoë punte het,
hoekom is julle jaloers
op die berg waar God wil woon,
die berg waar die Here altyd wil woon?
18God het baie oorlogkarre,
twee maal 10 000 en nog baie duisende.
Die Here is in hulle.
Soos Hy op Sinai-berg was,
so is Hy nou in die tempel.
19Toe U opgegaan het teen die hoë berg,
het U gevangenes saamgevat.
U het presente van die mense geneem,
ook van die mense wat opstandig was teen U.
U, o Here, o God, het op die berg gaan woon.
20Ons wil die Here prys, Hy dra ons elke dag.
Dit is God wat ons red.
Sela
21Hy is ons God, die God wat ons altyd help.
Die Here red mense sodat hulle nie sterf nie.
22Ja, God sal sy vyande se koppe stukkend slaan,
die koppe van die mense wat aanhou sonde doen.
23God het gesê: “Ek sal julle vyande laat terugkom,
uit Basan of uit die diep plekke in die see,
24sodat jy met jou voete in hulle bloed kan trap,
en jou honde ook van die vyande se bloed kan kry.”
25O God, almal sien hoe U en almal by U
na die tempel gaan.
Dit is my God, my Koning,
wat na die tempel gaan.
26Die mense wat sing, loop voor,
die mense wat snaarmusiek maak, loop agter,
en die meisies wat tamboeryne skud, loop in die middel.
27Daar is 'n groot vergadering, almal prys God,
die nageslag van Israel prys die Here.
28Die leiers van Benjamin, die kleinste stam, is daar,
hulle loop voor die ander leiers.
Daarna kom die leiers van die Juda-stam,
dit is baie baie mense.
Daarna kom die leiers van die Sebulon-stam
en die leiers van die Naftali-stam.
29-30Leiers van Israel, julle God het vir julle krag gegee.
Dit is die krag van God.
O God, U het uit u tempel u krag gebruik
om ons te red,
U het dit gedoen vir Jerusalem.
Konings sal presente bring vir U.
31U moet hard raas met Egipte,
daardie wilde dier tussen die riete,
die volk wat sterker is as ander volke,
soos bulle wat sterker is as kalwers,
die volk wat trap op die stukke silwer
wat ander volke vir hulle bring.
U moet die volke na al die kante toe jaag,
die volke wat lief is om oorlog te maak.
32Hulle moet vir die Here presente bring
uit Egipte,
die mense van die land Kus
moet hulle hande uitsteek
en tot God bid.
33Mense van al die lande op die aarde,
julle moet sing vir God,
julle moet die Here prys,
Sela
34die Here wat deur die hemel ry,
die hemel wat van die begin af daar is.
Luister, Hy praat, Hy praat hard.
35Julle moet sing oor die krag van God,
Hy wat Koning oor Israel is,
Hy wys sy krag oral, tot in die wolke.
36O God, wanneer U uit u tempel kom, dan bewe ons.
Ons sê: “Hy is die God van Israel, Hy gee vir ons krag,
Hy maak die volk sterk.
Ons prys God.”

Currently Selected:

Psalms 68: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy