YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 6

6
Hoe mense die Here moet dien
1“Julle moet seker maak: Wanneer julle die Here dien, dan moet julle dit nie doen sodat al die mense kan sien wat julle doen nie. As julle dit doen en julle wil hê al die mense moet dit sien, dan sal julle Vader in die hemel nie daaroor goed wees vir julle nie.”
Hoe mense die Here moet dien: Hoe om arm mense te help
2“Wanneer jy arm mense help, dan moet jy dit nie vir almal in die sinagoges en op die strate vertel nie. Die skynheilige mense doen dit, sodat al die mense moet sê hulle is goed. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie daaroor goed wees vir hulle nie. 3Wanneer jy arm mense help, dan moet jy dit so doen dat ander mense nie daarvan weet nie. 4Ander mense moenie sien dat jy arm mense help nie. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, Hy sal goed wees vir jou.”
Hoe mense die Here moet dien: Hoe om te bid
(Ook Luk 11:2-4)
5“Wanneer julle bid, dan moet julle nie soos die skynheilige mense bid nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te bid. Hulle doen dit sodat die mense hulle kan sien. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie vir hulle daaroor goed wees nie. 6Maar wanneer jy bid, moet jy na jou kamer gaan. Maak dan die deur toe sodat niemand jou kan sien nie, en bid tot jou Vader. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou. 7Wanneer julle bid, moenie 'n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. 8Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra. 9Julle moet só bid:
“Ons Vader wat in die hemel is,
ons bid dat al die mense
u heilige Naam sal eer
omdat U God is.
10Ons bid dat die tyd moet kom
wanneer almal sal weet
U is Koning.
Ons bid dat al die mense
op die aarde sal doen
wat U wil hê hulle moet doen,
soos die engele in die hemel
dit doen.
11Gee vir ons vandag die kos
wat ons vandag nodig het.
12En vergewe ons alles wat ons
verkeerd gedoen het teen U,
soos ons ook ander mense vergewe
wat verkeerd gedoen het
teen ons.
13En help ons dat niks sal gebeur
wat ons sal laat sonde doen nie.
Maar beskerm ons
teen die duiwel.
14“Wanneer ander mense verkeerd doen teen julle, dan moet julle hulle vergewe. Dan sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, dan sal julle Vader in die hemel julle ook nie vergewe wanneer julle verkeerd gedoen het nie.”
Hoe mense die Here moet dien: Hoe om te vas
(Ook Luk 5:33)
16“Wanneer julle vas omdat julle God wil eer, dan moet julle nie doen wat die skynheilige mense doen nie. Hulle wys hulle kry swaar, hulle was nie hulle gesigte nie en kam nie hulle hare nie. Hulle doen dit sodat die mense moet sien hulle is besig om te vas. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie goed wees vir hulle omdat hulle dit doen nie. 17Maar jy, wanneer jy vas, moet jy jou gesig was en jou hare kam 18sodat die mense nie kan sien dat jy vas nie. Net jou Vader moet sien dat jy vas. Die mense kan nie jou Vader sien nie. En jou Vader in die hemel wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou.”
Die belangrikste dinge
(Ook Luk 12:33-34)
19“Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. 20Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. 21Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.”
'n Mens se oog wys hoe hy is
(Ook Luk 11:34-36)
22“Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry en jy help hulle, dan is jy vol lig. 23Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. As daar nie lig in jou is nie, dan is dit baie donker rondom jou.”
Geld en baie goed
(Ook Luk 16:13; 12:22-32)
24“'n Mens kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks vir die ander persoon wil doen nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en baie ander dinge is so belangrik soos Hy nie.
25“Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, oor wat julle sal eet en drink nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam nie, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. 26Kyk na die voëls. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, hulle pluk nie vrugte nie en hulle maak nie kos bymekaar in 'n stoorkamer nie. Maar julle Vader in die hemel gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. 27Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. 28En hoekom is julle bekommerd oor die klere wat julle moet aantrek? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. 30God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand die plante in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter sorg vir julle as vir die plante, ook vir julle wat so min glo.
31“Daarom moet julle nie bekommerd wees nie. Julle moenie vra: ‘Wat moet ons eet?’ of ‘Wat moet ons drink?’ of ‘Wat moet ons aantrek?’ nie. 32Want al hierdie dinge is belangrik vir die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader in die hemel weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God julle Koning is. Julle moet gehoorsaam wees aan Hom en doen wat Hy wil hê. Dan sal Hy al hierdie ander dinge ook vir julle gee. 34En julle moenie vandag bekommerd wees oor wat môre sal gebeur nie. Môre sal sy eie probleme hê waaroor julle bekommerd sal wees. So sal elke dag sy eie probleme hê.”

Currently Selected:

Matteus 6: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy