YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 15

15
Jesus is die ware wingerdstok
1Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Ek is die ware wingerdstok. My Vader is die druiweboer. 2Daar is party lote wat uit My groei maar wat niks vrugte dra nie. My Vader knip daardie lote af. Maar die lote wat vrugte dra, knip Hy net skoon sodat hulle nog meer vrugte kan dra. 3Julle is klaar skoon. Wat Ek vir julle gesê het, het julle skoongemaak. 4Julle moet by My bly soos Ek by julle bly. Julle moet onthou 'n loot alleen kan nie vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok vas bly. Julle kan ook nie vrugte dra as julle nie by My bly nie. 5Ek is die wingerdstok. Julle is die lote. As julle by My bly en as Ek by julle bly, dan sal julle baie vrugte dra. As Ek nie by julle is nie, dan kan julle niks doen nie. 6As mense nie by My bly nie, dan sal met hulle gebeur wat met lote gebeur wat nie vrugte dra nie. Die mense gooi daardie lote weg, en dit word droog. Later vat hulle dit en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7Julle moet by My bly, en die dinge wat Ek vir julle sê, moet in julle harte bly. Dan kan julle vir My vra wat julle wil hê en Ek sal dit vir julle gee. 8As julle baie vrugte dra, en as julle my dissipels is, dan sal die mense weet my Vader is God.
9“Die Vader is lief vir My. So is Ek ook lief vir julle. Julle moet vashou aan my liefde, my liefde moet vir julle baie belangrik wees. 10Ek het vasgehou aan my Vader se liefde, want Ek het gedoen wat Hy gesê het. Julle moet dieselfde doen. As julle wil doen wat Ek sê, dan moet julle vashou aan my liefde. 11Ek sê dit vir julle, want Ek wil hê julle moet so bly wees soos Ek. Dan sal julle regtig baie bly wees. 12Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle 'n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar. 13Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek sê. 15Ek noem julle nie meer slawe nie, want 'n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Ek noem julle vriende, want Ek het vir julle alles vertel wat Ek by my Vader gehoor het. 16Julle het My nie gekies nie, Ek het julle gekies. Ja, Ek het julle gekies en aangestel om vrugte te dra, vrugte wat nie sleg word nie. Dan sal die Vader vir julle alles gee as julle dit vra omdat julle aan My behoort. 17Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir mekaar.”
Die wêreld sal die dissipels haat
18Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As die mense van die wêreld julle haat, dan moet julle onthou hulle het My gehaat voordat hulle julle gehaat het. 19As julle mense is wat lief is vir die wêreld, dan sal die ander mense van die wêreld lief wees vir julle, want dan is julle soos hulle. Maar julle is nie mense van die wêreld nie. Ek het julle gekies uit die mense van die wêreld. Daarom haat die mense van die wêreld julle. 20Julle moet onthou, Ek het vir julle gesê 'n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Die mense van die wêreld het slegte dinge gedoen aan My, en daarom sal hulle ook slegte dinge doen aan julle. Hulle het nie geluister na wat Ek sê nie, en daarom sal hulle ook nie luister na wat julle sê nie. 21Hulle sal slegte dinge doen aan julle, want julle behoort aan My. Hulle ken ook nie vir God nie, God wat My na die wêreld gestuur het. 22Ek het gekom en Ek het met hulle gepraat. Nou kan hulle nie sê hulle is nie sondaars nie. Hulle kan nie sê hulle weet nie dat hulle sonde doen nie. 23As iemand My haat, dan haat hy ook my Vader. 24Hulle het gesien dat Ek wonderwerke doen wat niemand anders kan doen nie. Nou kan hulle nie sê hulle is nie sondaars nie. Hulle het gesien wat Ek gedoen het, maar hulle haat My en my Vader. 25Dit gebeur sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is:
“ Hulle het My gehaat,
maar Ek het niks verkeerd
gedoen nie.
26“Ek sal vir julle 'n Helper stuur wat van die Vader kom. Die Helper is die Heilige Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is. Die Helper kom van die Vader. Hy sal vir julle vertel van My. 27Julle moet ook vir die mense vertel van My, want julle was van die begin af saam met My.

Currently Selected:

Johannes 15: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy