YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 13

13
Jesus was die dissipels se voete
1Dit was amper tyd vir die Paasfees. Jesus het geweet dit was tyd om weg te gaan van hierdie wêreld en terug te gaan na sy Vader toe. Alles wat Jesus tot daardie dag gedoen het, het gewys dat Hy lief was vir die mense wat aan Hom behoort het en wat in die wêreld was. Jesus het tot die einde sy liefde vir hulle gewys, Hy het dit heeltemal gewys toe Hy aan die kruis gesterf het.
2Jesus en die dissipels was besig om te eet. Die duiwel het toe al klaar vir Judas die plan gegee om Jesus te verraai. 3Jesus het geweet dat die Vader gesê het Jesus mag oor alles en almal regeer. Jesus het ook geweet Hy self kom van God en Hy gaan weer terug na God toe. 4Daarom het Jesus opgestaan van die tafel. Hy het sy bo-kleed uitgetrek en Hy het 'n doek vasgemaak om sy lyf. Slawe het dit altyd gedoen wanneer hulle mense bedien het. 5Toe gooi Jesus water in 'n bak. Hy het begin om die dissipels se voete te was. Hy het ook hulle voete afgedroog met die doek wat om sy lyf was. 6Jesus wou Petrus se voete ook was, maar toe vra Petrus vir Hom: “Here, wil Ú mý voete was?”
7Jesus het vir Petrus gesê: “Jy verstaan nie nou wat Ek doen nie, maar jy sal later verstaan.”
8Petrus het vir Jesus gesê: “U mag nooit my voete was nie.”
Jesus het vir hom gesê: “As Ek nie jou voete was nie, dan kan jy nie my dissipel wees nie.”
9Simon Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dan moet U my voete en my hande en my kop was.”
10Jesus het vir hom gesê: “Wanneer 'n mens klaar gebad het, dan is jou liggaam klaar skoon. Dan is dit net jou voete wat jy moet was. Julle wat hier by My is, is skoon, maar nie almal nie.”
11Jesus het geweet Judas sal Hom verraai. Daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”
Jesus is 'n voorbeeld vir sy dissipels
12Toe Jesus die dissipels se voete klaar gewas het, het Hy sy bo-kleed aangetrek. Hy het weer by die tafel gaan sit en Hy het vir die dissipels gevra: “Verstaan julle wat dit beteken dat Ek julle voete gewas het? 13Julle noem My ‘Meneer’ en ‘Here.’ Dit is reg, want dit is wat Ek is. 14Ek is julle Here en julle Meneer, maar Ek het julle voete gewas. Daarom moet julle ook mekaar se voete was. 15Ek is vir julle 'n voorbeeld. Julle moet ook doen wat Ek vir julle gedoen het. 16Ek sê vir julle, en dit is seker: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. 'n Boodskapper is ook nie belangriker as die man wat hom gestuur het nie. 17Julle het nou gehoor wat Ek sê. As julle dit doen, dan sal julle gelukkig wees.
18“Ek praat nie van julle almal nie. Ek weet vir wie Ek gekies het. Die woorde wat in die Ou Testament geskryf is, sal waar word. Daar is geskryf:
“ 'n Man wat saam met my eet,
het my vyand geword.
19“Ek sê dit nou vir julle, voordat dit gebeur. Wanneer dit later gebeur, dan sal julle glo dat Ek ook God is. 20Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer Ek iemand stuur om 'n boodskap te bring, en die mense luister na hom, dan luister hulle ook na My. En wanneer mense na My luister, dan luister hulle na die Vader wat My gestuur het.”
Een van die dissipels sal vir Jesus verraai
(Ook Matt 26:21-23; Mark 14:18-20; Luk 22:21)
21Nadat Jesus dit gesê het, het Hy baie hartseer en ontsteld geword en Hy het ernstig gepraat en vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.”
22Die dissipels het na mekaar gekyk. Hulle was baie verbaas, want hulle het nie geweet van wie Jesus praat nie. 23Een van die dissipels het langs Jesus gesit. Dit was die dissipel vir wie Jesus lief was. 24Petrus het vir daardie dissipel gewys hy moet vir Jesus vra wie Hom sal verraai. 25Die dissipel wat langs Jesus gesit het, vra toe vir Jesus: “Here, van wie praat U? Wie is die persoon wat U sal verraai?”
26Jesus het gesê: “Ek sal 'n stukkie brood in die sous druk en Ek sal dit gee vir die een wat My sal verraai.”
Jesus druk toe 'n stukkie brood in die sous en Hy gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. 27Judas het die stukkie brood geneem, en toe het die Satan in Judas se hart gekom en vir Judas regeer. Daarom het Jesus vir Judas gesê: “Jy moet nou gou maak en gaan doen wat jy wil doen.”
28Die ander dissipels wat daar gesit het, het nie verstaan hoekom Jesus vir Judas gesê het hy moet gou maak nie. 29Judas het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was. Daarom het party van die dissipels gedink Jesus sê vir Judas om alles te gaan koop wat hulle moet hê vir die Paasfees. Party dissipels het gedink Jesus sê vir Judas hy moet geld vir die arm mense gaan gee. 30Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy dadelik uitgegaan. Buite was dit donker.
Jesus gee 'n nuwe wet
(Ook Matt 26:33-34; Mark 14:29-30; Luk 22:33-34)
31Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou wys God dat Ek, die Seun van die mens, ook God is. God gebruik My om te wys Hy is God. 32Ja, God gebruik My om te wys Hy is God. God self sal wys dat Ek ook God is. Hy sal nie lank wag nie, dan sal Hy dit doen. 33My liewe vriende, Ek sal nog net 'n kort tydjie by julle wees. Julle sal My soek, maar Ek sê nou vir julle wat Ek vir die Jode gesê het: Ek gaan na 'n plek, julle kan nie daarnatoe gaan nie. 34Ek gee nou vir julle 'n nuwe wet: Julle moet lief wees vir mekaar. Julle het gesien hoe lief Ek vir julle is. Daarom moet julle ook so lief wees vir mekaar. 35As julle lief is vir mekaar, dan sal al die mense weet julle is my dissipels.”
36Toe sê Simon Petrus vir Jesus: “Here, waarnatoe gaan U?”
Jesus het vir hom gesê: “Jy kan nie nou saam met My kom nie. Jy sal later kom.”
37Petrus vra toe vir Hom: “Here, hoekom kan ek nie nou saam met U gaan nie? Ek sal sterf om U te beskerm!”
38Jesus het vir hom gesê: “Nee, Petrus, jy sê jy sal sterf om My te beskerm, maar Ek sê vir jou, en dit is seker: Voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal sê jy ken nie vir My nie.”

Currently Selected:

Johannes 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy