YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 49

49
Jakob seën sy seuns
1Jakob het sy seuns geroep en gesê:
“Kom hier na my toe
sodat ek vir julle kan vertel
wat later met julle nageslag
sal gebeur.
2Kom hier en luister,
seuns van Jakob.
Kom luister na julle pa Jakob.
3“Ruben, jy was my eerste kind.
Jy is gebore toe ek jonk
en sterk was,
jy is my beste
en belangrikste seun.
4Maar jy sal nie die belangrikste
bly nie,
want jy het 'n verkeerde ding
gedoen.
Jy was soos water wat oor
die walle stroom.
Jy het seks gehad met
jou pa se vrou,
jy het my bed
onrein gemaak.
5“Simeon en Levi is broers
wat dieselfde is.
Hulle is lief om te baklei.
6Hulle kom bymekaar
en maak planne,
maar ek wil nie daar saam met
hulle wees nie,
want hulle het mense
doodgemaak toe hulle
kwaad was.
Hulle het wrede dinge gedoen
aan diere
en hulle het die diere
se hakskene afgesny
omdat hulle lus was
om dit te doen.
7Ek vervloek hulle
omdat hulle so baie
kwaad geword het.
Hulle sal nie bymekaar
kan bly nie,
hulle sal woon tussen
die ander mense,
oral in die land Israel.
8“Juda, jou broers sal jou prys.
Jy sal jou vyande oorwin en
jy sal regeer oor jou broers.
9My seun Juda,
jy is soos 'n jong leeu
wat opstaan nadat hy
'n bok gevang het.
Jy gaan lê soos 'n leeu
wat gaan slaap,
en almal is bang om jou te pla.
10Daar sal altyd 'n koning
in jou nageslag wees.
Hy sal regeer totdat Silo kom.
Baie volke sal gehoorsaam
wees aan hom.
11Hy sal die beste
wingerdstokke hê
en hy sal sy donkie
daaraan vasmaak.
Hy sal so baie wyn hê
dat hy sy klere daarin
kan was.
12Sy oë sal meer blink as wyn,
sy tande sal witter wees as melk.
13“Sebulon sal naby die see woon,
by die strand waar die bote is.
Hy sal grond hê tot by
die stad Sidon.
14“Issaskar is soos 'n sterk donkie
wat tussen die saalsakke lê.
15Hy sal 'n goeie rusplek
en 'n mooi land sien.
Hy sal tevrede wees
om hard te werk daarvoor,
ja, hy sal soos 'n slaaf werk.
16“My seun Dan sal seker maak
dat mense reg doen
aan sy volk,
want hulle is ook
een van die stamme
van Israel.
17Dan is soos 'n slang langs die pad.
Hy is soos 'n horingslang
wat die perd
se hakskeen byt,
sodat die man wat op
die perd ry,
agteroor val.
18“Here, Ek wag dat U my help.
19“'n Klomp rowers
sal vir Gad aanval,
maar hy sal hulle wegjaag,
hy sal van agter kom en hy
sal hulle aanval.
20“Aser sal goeie kos eet.
Hy sal kos eet wat konings
altyd eet.
21“Naftali is soos 'n takbok
wat vry rondloop.
Hy sal 'n mooi nageslag hê.
22“Josef is soos 'n jong
vrugteboom by 'n fontein.
Sy takke groei oor die muur.
23Baie mense sal hom aanval
en hulle sal hom met pyl
en boog skiet.
Hulle sal hom laat swaarkry,
24maar hy sal hulle oorwin.
Sy boog en sy arms is sterk,
want die sterk God van Jakob
help hom.
Die God wat die Rots
van Israel is,
is sy Herder.
25Josef, die God van jou pa
sal jou help,
die Almagtige God
sal jou seën.
Hy sal jou seën met reën
uit die hemel en met
water uit die grond.
Hy sal die ma's seën
sodat hulle baie kinders
kan kry en melk sal hê
vir die kinders.
26My seun, ek seën jou meer
as my ander kinders.
Die seën sal aanhou
so lank soos die berge
en heuwels daar is.
Met Josef sal dit goed gaan,
want hy sal die leier
van sy broers wees.
27“Benjamin is soos 'n wolf
wat ander diere doodmaak.
In die oggend en in die aand
eet hy die diere wat hy
gevang het
en hy gee dit vir sy kleintjies.”
28Dit is die twaalf stamme van Israel, en dit is wat hulle pa vir hulle gesê het. Hy het hulle geseën, en hy het vir elke stam sy eie seën gegee.
Jakob se dood en begrafnis
29Jakob het vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, dan moet julle my gaan begrawe by my voorvaders in die grot op die grond wat aan Efron die Hetiet behoort het. 30Die grot en grond van Makpela is naby Mamre in Kanaän. Dit is die grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, gekoop het om daar 'n graf te hê. 31Abraham se familie het hom en sy vrou Sara daar begrawe, en ook vir Isak en sy vrou Rebekka, en vir Lea. 32Abraham het die grond en die grot daarop van die Hetiete gekoop.”
33Toe Jakob klaar met sy seuns gepraat het, het hy weer gaan lê en hy het gesterf.

Currently Selected:

Genesis 49: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy