YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 4

4
Vyande sal Jerusalem aanval van al die kante
1Die Here het vir my gesê: “Maar jy, mens, jy moet 'n baksteen neem en jy moet dit voor jou neersit, en jy moet 'n stad op die baksteen teken, die stad Jerusalem. 2Dan moet jy alles doen wat vyande doen wanneer hulle 'n stad aanval: Jy moet 'n grondwal bou om die stad en jy moet grond gooi teen die muur van die stad. Jy moet tente opslaan en stormramme maak rondom die stad. 3Maar jy moet 'n ysterplaat neem en jy moet dit neersit tussen jou en die stad. Dit moet 'n ystermuur wees. Jy moet na die stad kyk en jy moet maak of jy die stad van al die kante aanval. 4Jy moet eers op jou linker-sy lê en jy moet die straf dra vir die sonde van die volk Israel. Jy moet die straf dra so lank soos jy op jou linker-sy lê. 5Ek het besluit jy moet 390 dae lank op jou linker-sy lê en jy moet die straf dra, een dag vir elke jaar van die straf van die volk Israel. 6En wanneer jy dit klaar gedoen het, dan moet jy weer lê, op jou regter-sy, en jy moet 40 dae lank die straf van die volk Juda dra. Ek het besluit jy moet die straf dra, een dag vir elke jaar. 7Jy moet jou gesig draai na Jerusalem, die stad wat vyande rondom het. Jy moet jou moue oprol en jy moet 'n profeet wees en 'n boodskap bring teen die stad. 8Kyk, Ek bind jou vas met toue sodat jy nie van die een sy op die ander sy kan draai nie. Wanneer jy klaar die stad van al die kante aangeval het, dan kan jy omdraai. 9En jy moet koring en gars en boontjies en lensies en sorghum en spelt neem. Jy moet dit saam in 'n bak sit en vir jou kos maak. Jy moet dit eet so lank soos jy op jou sy lê, 390 dae lank. 10Jy moet elke dag 20 sikkels van die kos eet. Jy moet 'n bietjie eet, en later moet jy weer 'n bietjie eet. 11En jy moet meet hoeveel water jy moet drink. Dit moet een sesde hin wees. Jy moet 'n bietjie drink, en later moet jy weer 'n bietjie drink. 12Jy moet broodjies bak om te eet, soos garsbroodjies, en jy moet dit bak op droë mensmis. Almal moet sien dat jy dit doen.”
13Die Here het ook gesê: “Die Israeliete sal hulle kos ook so moet eet tussen die ander volke. Ek sal hulle daarnatoe jaag. Hulle kos sal onrein wees.”
14Toe sê ek: “Ag, Here, my Here, ek het nooit vleis geëet van diere wat gevrek het of wanneer roofdiere hulle doodgemaak het nie, nooit, vandat ek jonk was tot vandag toe. Ek het ook nie offer-vleis geëet wat begin sleg word het nie. Ek het nie onrein geword nie.”
15Die Here het toe vir my gesê: “Goed, dan mag jy jou kos gaarmaak op beesmiskoeke, nie op droë mensmis nie.”
16Daarna het die Here vir my gesê: “Mens, Ek sal nou die kos en water in Jerusalem laat opraak. Hulle sal hulle kos moet weeg en hulle sal baie bang wees, hulle sal hulle water moet meet en hulle sal baie bekommerd wees. 17Hulle sal nie genoeg kos en water hê nie, hulle sal vir mekaar kyk en baie bang wees. Hulle sal stadig sterf omdat hulle sonde gedoen het.”

Currently Selected:

Esegiël 4: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy