YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 23

23
Samaria en Jerusalem, die twee slegte vroue
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, daar was twee vroue, hulle was dogters van dieselfde ma. 3Toe hulle jonk was in Egipte, het hulle begin om by mans te slaap. Dáár, toe hulle nog jongmeisies was, het mans al aan hulle borste begin voel. 4Die naam van die oudste dogter was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het my vroue geword en hulle het seuns en dogters gekry. Ohola is 'n naam vir die stad Samaria, en Oholiba is 'n naam vir die stad Jerusalem.
5“Maar Ohola was ontrou aan My. Sy was baie verlief op die Assiriërs wat naby haar was. 6Hulle het koningsklere gedra en hulle was goewerneurs en hoofde, mooi jongmanne wat op perde gery het. 7Ohola het graag by hulle geslaap, sy het by al die beste Assiriërs geslaap. Sy was baie verlief op hulle en sy het haarself onrein gemaak met al hulle afgode. 8Sy het in Egipte begin om by mans te slaap en sy het nie opgehou om dit te doen nie. Sy was nog jonk toe hulle by haar begin slaap het. Hulle het aan haar borste begin voel toe sy 'n jongmeisie was. Hulle het met haar gedoen wat hulle wou. 9Sy was verlief op die Assiriërs, daarom het Ek haar vir hulle gegee. 10Hulle het haar kaal uitgetrek, hulle het haar seuns en haar dogters gevat en hulle het haar toe doodgemaak. Hulle het haar so swaar gestraf dat ander vroue bang geword het wanneer hulle haar naam hoor.
11“Haar suster Oholiba het gesien wat met haar gebeur het, maar Oholiba het nog meer verlief geword en sy was nog meer ontrou as haar suster. 12Sy was verlief op die Assiriërs. Hulle was goewerneurs en hoofde wat naby haar was. Hulle het mooi klere gedra en hulle het op perde gery. Hulle was almal jongmanne, meisies het maklik verlief geword op hulle. 13Ek het gesien dat Oholiba haarself onrein gemaak het. Sy het dieselfde dinge gedoen soos haar suster. 14Oholiba het meer ontrou geword. Sy het prente van mans teen 'n muur gesien, prente van Galdeërs. Iemand het die prente geteken met rooi verf. 15Elke man het 'n belt van lap om sy heupe gehad en 'n lang tulband op sy kop. Dit het gelyk of die mans offisiere is, hulle het gelyk soos Babiloniërs, soos Galdeërs wat kom uit hulle geboorteland. 16Toe Oholiba die prente sien, het sy dadelik verlief geword op die Babiloniërs. Sy het boodskappers gestuur na hulle toe in Galdeër-land. 17Hulle het na haar toe gekom en hulle het by haar geslaap en haar onrein laat word. Maar nadat sy haarself onrein gemaak het met hulle, het sy nie meer van hulle gehou nie. 18Sy was heeltemal ontrou, sy het haar klere vir almal uitgetrek. Daarom het Ek opgehou om van haar te hou, soos Ek ook opgehou het om van haar suster te hou. 19Sy het onthou hoe ontrou sy was in Egipte toe sy jonk was, en sy het nog meer ontrou geword. 20Sy wou seks hê met die manne wat soos donkie-hingste en perde-hingste was. 21Ja, Oholiba, jy het verlang na die slegte dinge wat jy in Egipte gedoen het toe jy jonk was en toe hulle aan jou borste gevoel het.”
22Die Here, Hy wat Here is, sê: “Oholiba, jy het dit gedoen, en daarom sal Ek nou die mense bring om jou aan te val. Jy was lief vir daardie mense, maar jy hou nou nie meer van hulle nie. Ek sal hulle van al die kante teen jou laat veg. 23Daardie mense is die Babiloniërs, al die Galdeërs, en die mense van Pekod, Soa en Koa, en ook al die Assiriërs. Hulle is jongmanne, meisies het maklik verlief geword op hulle. Hulle is almal goewerneurs en hoofde, offisiere en belangrike manne, manne wat almal op perde ry. 24Hulle sal uit die noorde kom met oorlogkarre en baie soldate wat skilde en helms het. Hulle sal jou van al die kante aanval. Ek bring hulle om jou te straf, en hulle sal dit doen soos hulle self besluit. 25Ek is kwaad vir jou en Ek sal kwaad bly. Hulle is ook kwaad vir jou en hulle sal doen met jou wat hulle wil. Hulle sal jou neus en jou ore afsny en hulle sal jou seuns en dogters wegvat. Die mense wat oorbly, sal in die oorlog sterf, en die vyande sal alles verbrand wat nog in die stad is. 26Hulle sal jou kaal uittrek en hulle sal jou juwele vir hulleself vat. 27So sal Ek jou laat ophou om slegte dinge te doen, jy sal ophou om ontrou te wees soos jy in Egipte was. Jy sal nie weer kan dink aan daardie tyd nie.”
28Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ja, Ek sal jou nou gee vir die mense wat jy haat, jy hou nie meer van daardie mense nie. 29-30Hulle sal jou ook haat en hulle sal alles vat wat jy het. Dan sal hulle jou los, kaal en sonder klere. Hulle sal vir almal wys hoe ontrou jy was en watter slegte dinge jy gedoen het. Dit sal met jou gebeur omdat jy ontrou was. Jy was ontrou, jy het die ander volke gevolg en jy het jouself onrein laat word omdat jy hulle afgode aanbid het. 31Jy het gelewe soos jou suster, daarom gee Ek nou vir jou die beker van swaarkry wat jou suster moes drink.”
32Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy sal die beker drink wat jou suster moes drink. Dit is 'n groot beker. Die ander volke sal vir jou lag en hulle sal jou spot, want in die beker is daar baie wat jy moet drink. 33Jy sal dronk word en jy sal baie swaar kry. Jy sal baie bang word en jy sal heeltemal alleen wees wanneer jy die beker drink wat jou suster Samaria moes drink. 34Jy sal alles in die beker drink en jy sal dit leegmaak, en dan sal jy die beker stukkend kou, jy sal jou borste afskeur, want Ek het gepraat.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
35Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het My vergeet en jy het jou rug gedraai na My toe. Daarom sal Ek jou straf oor die slegte dinge wat jy gedoen het toe jy ontrou was.”
36Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet vir Ohola en Oholiba oordeel. Jy moet vir hulle sê hulle het dinge gedoen wat Ek haat. 37Want hulle het egbreuk gepleeg en hulle het mense vermoor. Hulle was ontrou, hulle het afgode gedien. Hulle het kinders gekry, dit was mý kinders, maar hulle het daardie kinders ook verbrand sodat die afgode hulle kon eet. 38En hulle het ook nog dít gedoen: Hulle het op een dag my tempel onrein gemaak en my Sabbatdae ontwy. 39Hulle het op een dag hulle kinders geslag vir hulle afgode en hulle het my tempel kom ontwy. Ja, dit is wat hulle gedoen het binne-in my tempel. 40Hulle het ook boodskappers gestuur om manne te nooi, die manne moes van ver kom. Toe die boodskapper by hulle kom, het hulle dadelik gekom. Jy, Oholiba, het gebad en jy het verf aan jou oë gesmeer en jy het jou juwele aangesit. 41Jy het gaan sit op 'n baie mooi bed, en jy het 'n tafel voor die bed gesit. Op die tafel het jy my wierook en my olyf-olie gesit. 42Daar was 'n klomp mense in die stad, en hulle was oor niks bekommerd nie. Saam met hulle almal was daar ook die manne wat uit die woestyn gekom het. Hulle was dronk en hulle het armbande aan Oholiba se arms gesit en 'n mooi kransie op haar kop. 43Ek het gedink: Sy is moeg van egbreuk pleeg, wil sy nou aanhou om ontrou te wees? 44Maar hulle het na haar toe gekom soos manne wat na 'n prostituut toe kom. Dit is hoe hulle gekom het na Ohola en Oholiba toe, die slegte vroue. 45Manne wat reg doen, moet hierdie vroue oordeel. Hulle moet hulle oordeel soos mense vroue oordeel wanneer hulle egbreuk gepleeg het en mense vermoor het. Want hierdie twee vroue het egbreuk gepleeg en hulle het mense vermoor.”
46Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy moet 'n volksvergadering laat bymekaarkom om die twee vroue te oordeel. Almal moet skrik wanneer hulle sien wat met die vroue gebeur, almal moet sien dat daar niks van hulle oorbly nie. 47Die volksvergadering moet die twee vroue doodgooi met klippe en stukkend kap met byle. Hulle moet ook die twee vroue se kinders doodmaak en hulle huise verbrand. 48So wil Ek die slegte dinge in die land stop. Al die vroue moet bang word, hulle moenie dieselfde slegte dinge doen nie. 49So sal julle die straf kry vir die slegte dinge wat julle gedoen het toe julle die afgode gedien het. Julle sal weet dat Ek die Here is, Hy wat Here is.”

Currently Selected:

Esegiël 23: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy