YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 40

40
Moses slaan die tempel-tent op
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet die tempel-tent opslaan op die eerste dag van die eerste maand. Dit is die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. 3Jy moet die kis waarin die tien gebooie moet kom, in die tent neersit, agter die gordyn. 4Jy moet die tafel bring en alles regsit wat daarby moet wees. Jy moet ook die lampstaander bring en die lampe aansteek. 5Jy moet die goue wierook-altaar voor die kis sit waarin die tien gebooie is en jy moet die gordyn ophang in die ingang van die tempel-tent. 6Jy moet die brandoffer-altaar neersit voor die tempel-tent, die tent waar Ek aan julle verskyn. 7Jy moet die was-skottel neersit tussen die tent waar Ek aan julle verskyn en hierdie altaar, en jy moet water in die was-skottel gooi. 8Jy moet die oop stuk grond rondom die tent toemaak en jy moet die gordyn ophang by die ingang na die oop stuk grond.
9“Jy moet die salf-olie neem en jy moet die tempel-tent daarmee salf. Salf ook alles wat daarin is. Wy die tent en alles wat daarby moet wees. Die tent sal dan gewy wees. 10Salf ook die brandoffer-altaar en alles wat daarby moet wees. Jy moet die altaar wy, dan sal dit hoog-gewy wees.
11“Jy moet die was-skottel en die voetstuk salf en dit ook wy. 12Jy moet vir Aäron en sy seuns nader bring na die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn. Jy moet hulle met water was. 13Jy moet vir Aäron die gewyde klere aantrek. Dan moet jy hom salf en hom wy, sodat hy my priester kan wees. 14Jy moet sy seuns ook nader bring en jy moet die rokke vir hulle aantrek. 15Salf hulle dan soos jy hulle pa gesalf het, sodat hulle my priesters kan wees. Jy moet hulle salf, dan sal hulle en hulle nageslag altyd my priesters wees.”
16Moses het alles gedoen, presies soos die Here vir hom gesê het. 17Hulle het die tempel-tent opgeslaan op die eerste dag van die eerste maand van die tweede jaar nadat die Israeliete uit Egipte weggegaan het. 18Moses het die tempel-tent opgeslaan:
Hy het die voetstukke neergesit, die rame en die pale regop gesit en die dwarspale vasgemaak. 19Hy het die seil oor die tempel-tent gesit en hy het die ander seil bo-oor gesit. Dit was soos die Here vir Moses gesê het. 20Hy het die tien gebooie geneem en hy het dit in die kis gesit. Hy het die dra-pale deur die ringe gesteek en hy het die deksel op die kis gesit. 21Toe het Moses die kis in die tempel-tent gebring en die gordyn opgehang. Die kis waarin die tien gebooie is, was toe agter die gordyn. Dit was soos die Here vir Moses gesê het. 22Moses het die tafel gesit in die tent waar die Here aan hulle verskyn. Die tafel was in die noordekant van die tempel-tent voor die gordyn. 23Hy het toe die offer-brood daarop neergesit voor die Here, soos die Here vir hom gesê het. 24Moses het die lampstaander neergesit in die tent waar die Here aan hulle verskyn, by die tafel, in die suidekant van die tempel-tent. 25Toe het hy die lampe aangesteek voor die Here, soos die Here vir hom gesê het. 26Hy het die goue wierook-altaar neergesit in die tent waar die Here aan hulle verskyn. Die altaar was voor die gordyn. 27Toe het hy die wierook op die altaar aan die brand gesteek, soos die Here vir hom gesê het. 28Hy het die gordyn in die ingang van die tempel-tent opgehang. 29Hy het die brandoffer-altaar neergesit by die ingang van die tempel-tent, die tent waar die Here aan hulle verskyn. Moses het op die altaar brand-offers en koring-offers gebring, soos die Here vir hom gesê het. 30Hy het die was-skottel neergesit tussen die tent waar die Here aan hulle verskyn en die altaar. Hy het water daarin gegooi om te was. 31Moses, Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daarin gewas 32wanneer hulle gegaan het na die tent waar die Here aan hulle verskyn en ook wanneer hulle nader gegaan het na die altaar. Dit was soos die Here vir Moses gesê het. 33Moses het die gordyne gehang om die oop stuk grond rondom die tempel-tent en die altaar, en hy het die gordyn gehang in die ingang na die oop stuk grond. So het Moses al die werk klaargemaak.
Die wolk oor die tempel-tent
34'n Wolk het gehang oor die tent waar die Here aan hulle verskyn, en die lig wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn, was in die tempel-tent. 35Moses kon nie ingaan in die tent waar die Here aan hulle verskyn nie, want die wolk het oor die tent gebly. Die lig wat om die Here, die Koning, is, was in die tempel-tent. 36Elke maal wanneer die wolk weggegaan het van die tempel-tent, dan het die Israeliete verder gegaan. 37Maar wanneer die wolk oor die tempel-tent gebly het, dan het die mense nie verder gegaan nie. Hulle het daar gebly totdat die wolk weggegaan het. 38Die wolk van die Here was in die dag oor die tempel-tent, en in die nag was dit 'n vuur. Al die Israeliete het dit gesien, oral waar hulle gegaan het.

Currently Selected:

Eksodus 40: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy